Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Rupert is ’n lekker ou as dit Floyd pas

Terwyl EFF-leiers gereeld op openbare verhoë uitvaar teen die “Stellenbosse mafia” is hulle gerieflik hand om die blaas met die “wit kapitaliste” as dit hulle pas.

Johann Rupert in 2017 op die bof van St. Andrews se Old Course op dag een van die Alfred Dunhill Links-toernooi in Skotland. Foto: Getty Images

In ’n nuwe boek, The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionaire’s Club, skryf die joernalis Pieter du Toit dat veral die EFF se adjunkleier, Floyd Shivambu, ’n gereelde besoeker aan Stellenbosch is.

Hy het glo al selfs die sakemanne Johann Rupert, voorsitter van Richemont, en GT Ferreira, medestigter van First­Rand, gevra om met van sy projekte te help.

Dit was ook Shivambu wat Rupert aangeraai het om die veelbesproke onderhoud met Given Mkhari van Power­FM toe te staan in ’n poging om sy beeld onder die swart middelklas te verbeter.

‘Jy moet op Mkhari se program gaan.’

Die vreemde verhouding tussen die EFF en die Stellenbosse kapitaliste het al voorheen die hoofopskrifte gehaal. In Februarie het die party wyne van Rupert & Rothschild Vignerons by ’n galadinee bedien. Die landgoed is ’n vennootskap tussen twee van Afrika en Europa se rykste families.

In sy toespraak die aand het Malema uitgevaar teen Johann Rupert se suster, Hanneli, wat blykbaar voorgestel het dat die EFF en haar broer moet ontmoet. “Die woordvoerder van die EFF het gesê ‘kan jy asseblief vir Rupert sê dat daar ten minste een party in Suid-Afrika moet wees wat hulle nie beheer nie’,” het Malema oor dié toenadering gesê.

Uit Du Toit se boek blyk dit egter dat Malema se adjunk hom blykbaar nie baie steur aan sy “opperbevelhebber” se renons in die “witmonopoliekapitaliste” nie.

Floyd Shivambu

“Shivambu is inderdaad ’n gereelde besoeker aan Stellenbosch. Sedert die publikasie van die boek het ek gehoor van nog ontmoetings wat hy met Stellenbosse sakemanne gehad het,” het Du Toit gister aan Rapport gesê.

In sy boek skryf Du Toit: “Gedurende die ANC se genadelose presidensiële verkiesingsveldtog in 2017 was Shivambu een van Rupert se grootste bronne in sy informele inligtingsnetwerk, soms om die binnewerkinge van die party se prosesse en prosedures te verduidelik – en dikwels om Rupert te waarsku oor belangrike ontwikkelinge in die party.” Shivambu het byvoorbeeld lank voor die finale uitslag reeds vir Rupert gesê dat Cyril Ramaphosa gaan wen.

“Glo dit as jy wil,” het Rupert aan Du Toit gesê, “maar Floyd Shivambu het my geadviseer om die PowerFM-onderhoud te doen. Nadat hy my leer ken het, en besef het wat ek eintlik doen, dat ek gekant was teen apartheid en wie ek (gedurende die struggle) geken het, het hy gesê: ‘Maar niemand weet dit nie. Jy moet op Given Mkhari se program gaan en die Chairman’s Conversation (met Mkhari) doen.”

Die sakeman GT Ferreira.

Ironies genoeg het die onderhoud waarskynlik Rupert se beeld onder die swart middelklas meer skade as goed gedoen. Rupert het onder groot kritiek deurgeloop vir uitlatings soos: “Ek sien nie jul generasie bereid om (soos Nelson Mandela) vir dekades tronk toe te gaan nie. Nee, julle sal (die Johannesburgse nagklub) The Sands te veel mis.”

Du Toit skryf ook van ’n ontmoeting tussen Shivambu, Rupert en Ferreira op Tokara, die wynplaas van Ferreira aan die hange van Simonsberg.

Shivambu en ’n kollega – Rupert kan nie onthou wie dit was nie – het hulle vir hulp kom vra om ’n hospitaal in Limpopo te bou.

Hulle het ’n sakeman geken wat reeds ’n paar Spar-supermarkte gebou het en nou met Mediclinic wou saamwerk om ’n hospitaal te bou.

“Ek het hulle gesê ons kan nie help nie, maar miskien kan die mense van Mediclinic help.”

Du Toit sê hy het ná die publikasie van die boek inligting gekry oor nog ontmoetings wat Shivambu met van die land se rykste mense gehad het – almal lede van die “Stellenbosse Mafia” soos Malema graag na hulle verwys.

Du Toit sê hy kry die indruk dat Rupert uiteindelik moeg geraak het vir die feit dat EFF-leiers hom in die openbaar aanval, maar vir hulp kom aanklop as dit hulle pas.

Hy sê terselfdertyd erken mense soos Rupert, Ferreira en Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, dat die EFF-leiers invloedryk is, hul “bisarre idees van die ekonomie ten spyt”.

“Dis daarom belangrik vir hulle om kontak met die ouens te behou, miskien om hulle te probeer beïnvloed en op te voed.”

Shivambu het teenoor Du Toit ontken dat hy ooit vir Rupert ontmoet het of hom van raad gedien het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.