Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ryan Coetzee help weer die DA

Ryan Coetzee, wat die DA se hoogs suksesvolle verkiesingstrategie gelei het in die groeijare van 2006, 2009 en 2011, gaan die voorsitter wees van ’n paneel wat die DA se strukture en strategie in die nadraai van sy swak verkiesingsuitslae bekyk.

Dié aankondiging is Saterdag gemaak deur Mmusi Maimane, DA-leier, in ’n toespraak voor die party se federale raadsvergadering waarin Maimane ook aangebied het om te bedank as die “algemene gevoel” is dat sy leierskap nie die party se belange dien nie.

Dié aanbod is nie aanvaar nie.

In ’n toespraak van ’n driekwartier het Maimane in Bruma, Johannesburg, gesê meningsverskille tussen DA-amptenare het bygedra tot die verlies aan byna ’n halfmiljoen stemme teenoor die 2014-verkiesing en ’n daling in die party se aandeel in alle stemme van 22,2% tot 20,8%.

Die DA het ’n kerndeel van sy siel verloor.
Jonathan Moakes

Dit het ook Saterdag geblyk dat Jonathan Moakes, die party se nasionale verkiesingsbestuurder, reeds drie maande voor die verkiesing bedank het, maar dat Maimane nie hiervan ingelig is nie.

Volgens betroubare bronne het die DA se provinsiale raad in Gauteng Moakes se brief bespreek en besluit dat sy bedanking nie aanvaar word nie, maar dat hy eerder afgedank word, weliswaar eers ná ’n ondersoek.

Moakes wou nie gister kommentaar lewer oor die bewering dat Maimane nie van sy bedanking geweet het nie en het gesê dis ’n persoonlike saak tussen hom en die partyleierskap.

“Ek het absoluut my alles gegee vir verkiesing 2019, soos ek vir 14 jaar gedoen het van 2011, 2014 en 2016.”

Mike Moriarty, voorsitter van dié raad, het erken sterk opmerkings is op die provinsiale raadsvergadering gemaak, maar sprekers was eerder ontevrede met die inhoud van Moakes se brief en die feit dat partykanale gebruik is om dit oor te dra.

Moakes het geskryf het die DA het oor die jare ’n “kerndeel van sy siel” verloor. “Ongelukkig staan ons party nou al vir geruime tyd by ’n kruispad. Daar is fundamentele meningsverskille oor wie ons is, vir wie ons veg en wat ons wil bereik.”

Maimane het gesê die party het altyd geweet dit sou ’n moeilike verkiesing wees. “Maar ons uitslae is teleurstellend. Vir die eerste keer sedert die party se ontstaan het ons veld verloor. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir die uitslag. As julle dit verkies, is ek ook bereid om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die party se herstel en groei in die toekoms.

“As die algemene gevoel is dat my voortgesette leierskap nie in die beste belang van die DA is nie, sal ek bedank,” het hy gesê.

Rapport se bronne by die vergadering sê egter die lede het een ná die ander hul steun aan hom toegesê.

Maimane het gesê hy bly verbind tot die bou van ’n suksesvolle Suid-Afrika. “Dit beteken ek soek die beste vir die DA, omdat ek steeds glo die DA is die enigste hoop vir Suid-Afrika.

“Ons moet gefokus bly op 2021 en 2024 en daarna.”

Van die interne faktore wat gelei het tot minder steun sluit in partydissipline en gebrek aan eenheid.

“Debat en meningsverskille is gesond. Maar na buite moet ons met een stem praat. Ons het dit nie voor 2019 gedoen nie, hoewel daar groter dissipline in die laaste twee of drie maande was. Ek erken vryheid van spraak, maar verwerp gedrag wat deurgaans die projek wat ek in die DA en Suid-Afrika lei, ondermyn.

“As die mees diverse party is ons ook die party met die grootste uitdaging om mekaar te vind. Dis hoekom ons moet vashou aan ons kernbeginsels.”

Hy het gekap na diegene in die party wat openbare platforms gebruik om menings uit te spreek strydig met partybeleid. Die party gaan ’n stokkie hiervoor steek (lees die berig deur Jan de Lange op bl. 8).

“Dit gaan oor partydissipline. Lede wat ons beleid op openbare forums verdraai: dit stop vandag”, het Maimane gesê.

Maimane se aankondiging dat Ryan Coetzee voorsitter gaan wees van die paneel wat nou ’n kritiese ontleding van die DA se verkiesingsveldtog moet doen en met groeiplanne moet help, sal goeie nuus wees vir liberales in die party wat meen die DA het te ver weggedryf van die soort politiek wat die party bedryf het toe hy op sy skerpste gegroei het.

Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die federale raad, sal ook op die paneel dien.

Die hersiening sal toekomsgerig wees en fokus op hoe die DA in 2021 sy vertoning in die metro’s verder kan verbeter. Die party wil in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai volstrekte meerderhede behaal.

Meer oor:  Mmusi Mai­Mane  |  Jonathan Moakes  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.