Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA by ’n bepalende oomblik, sê Cyril
cyril
Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede. Foto: Jaco Marais

Suid-Afrika bevind homself by ’n bepalende oomblik in sy geskiedenis. Dit is ’n tyd van groot moeilikheid en twyfel, maar ook ’n tyd gelaai met groot geleenthede, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in sy staatsrede in die parlement in Kaapstad gesê.

Dit was nadat die EFF die verrigtinge ’n uur lank vertraag en uiteindelik uitgestap het.

“Die afgelope twee jaar het ons saamgewerk om ’n grondslag vir vordering te bou. Nou is die tyd vir ons om op daardie grondslag te bou, om te verenig, te werk, deur te druk," het Ramaphosa gesê.

“Ons sal nie ons toekoms aan twyfel, wanhoop of verdeling oorgee nie. Ons sal voort marsjeer na vryheid. Ons sal verandering omarm. Ons sal lewe koester. Ons sal niks vrees nie."

Die president het onder meer aangekondig die regering is gereed om, ná die afhandeling van die omstrede parlementêre proses, art. 25 van die Grondwet te wysig en die omstandighede uiteen te sit waarin onteiening van grond sonder vergoeding toelaatbaar sal wees.

Lees ook:

Tito kry sy sin oor dagga

Gaan Cyril die  SAL laat vou 

Cyril erken: Die ekonomie gaan nêrens heen nie 

Beurtkrag bly, maar Eskom kry nie pensioengeld nie

Ramaphosa sê die regering sal vanjaar 700 000 ha staatsgrond beskikbaar stel vir landbouproduksie. Tot op hede is 44 000 ha beskikbaar gestel.

Ekonomiese hervorming

Ramaphosa het toegegee landbou is een van die bedrywe wat die grootste rol in werkskepping kan speel.

Hy het ook beloof verreikende ekonomiese hervormingsmaatreëls sal in die volgende jaar onderneem word.

Die president het onder meer aangekondig hy het ’n gedetailleerde verslag van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gekry. Hy sal dié dokument binnekort beskikbaar stel, asook ’n plan om die bevindinge en aanbevelings uit te voer.

“Ons sal nie die stryd teen korrupsie en staatskaping laat vaar nie. Ons moet saamwerk om dit uit te roei en die oppergesag van die reg te versterk,” het Ramaphosa gesê.

Dit was Ramaphosa se vierde staatsrede sedert hy Vrydag presies twee jaar gelede president geword het ná die bedanking van oudpres. Jacob Zuma.

Springbokkaptein toegejuig

Die Springbokrugbykaptein, Siya Kolisi, het in die presidensiële losie langs die president se vrou, dr. Tshepo Motsepe, gesit. Kolisi het ’n groot toejuiging ontvang toe Ramaphosa na hom verwys het.

Só ook Zozibini Tunzi, Suid-Afrika se Mej. Heelal.

malema
Julius Malema praat met joernaliste buite die parlement nadat die EFF uitgestap het. Foto: Adrian de Kock

Oudpress. FW de Klerk, Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe was ook teenwoordig.

Ramaphosa sê dit is belangrik dat Suid-Afrika in die volgende jaar ’n bekwame staat bou en om die ekonomie op die pad van herstel te plaas.

“Laat ons reguit erken dat die regering nie ons ekonomiese probleme alleen kan oplos nie. Selfs al gebruik ons elke hulpbron en groot bedrae staatsgeld, sal ons alleen nie in staat wees om die indiensneming van miljoene werklose Suid-Afrikaners te waarborg nie. In die volgende jaar sal ons fundamentele sake moet regstel. Alles wat ons doen, moet onderskryf word deur doeltreffende implementering."

Oor Eskom en Suid-Afrika se kragprobleme het hy ook baie te sê gehad.

“Vir meer as ’n dekade lank was Suid-Afrikaners onderwerp aan die gevolge van ’n beperkte energietoevoer. Die beurtkrag van die laaste ruk het ’n negatiewe invloed op ons land gehad. Dit het ons pogings om die ekonomie reg te ruk en om werk te skep, laat agteruit gaan. Elke keer as dit gebeur, ontwrig dit mense se lewe, veroorsaak dit frustrasie en ongemak. Beurtkrag is egter die onvermydelike gevolg van Eskom se onvermoë oor baie jare om sy kragstasies weens skuld, die gebrek aan kapasiteit en staatskaping te onderhou,” het Ramaphosa erken.

Alles moontlik word gedoen om die kragverskaffer reg te ruk.

Die president sê ook die staat se finansies móét herstel word. Staatskuld is op pad na onvolhoubare vlakke en die land kan dit nie bekostig nie. Hy sê Tito Mboweni, minister van finansies, sal met sy begrotingsrede op 26 Februarie ’n reeks maatreëls aankondig om staatsuitgawes te verminder.

Hy het ook planne vir die stigting van ’n staatsbank aangekondig en gesê Mboweni sal meer daaroor sê.

fw
Oudpres. FW de Klerk woon die staatsrede by - die EFF het sy teenwoordigheid gebruik om ontwrigting te veroorsaak. Foto: Jaco Marais

Die omvang van staatskaping, korrupsie en wanbestuur in staatsentiteite word die beste gedemonstreer deur dit wat gebeur by die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat laat verlede jaar in sakeredding geplaas is, sê hy.

Die president het onder meer ook gepraat oor die land se pendelspoornetwerk, die vinniger toekenning van waterlisensies, verbeteringe aan die Durbanse hawe, die motormeesterplan, onderwys en Suid-Afrika se voorsitterskap van die Afrika-Unie.

Die president het die stigting van ’n universiteit vir wetenskap en innovering in Ekurhuleni aangekondig. Ekurhuleni is die enigste metrogebied in die land wat nie ’n universiteit het nie.

Voorts sal ’n universiteit vir misdaadopsporing in Hammanskraal, noord van Pretoria, gestig word om die gehalte van algemene en gespesialiseerde polisieondersoeke te verbeter, sê die president. Polisiekantore sal ook voortaan beter toegerus word en opleiding sal verbeter.

Voorts het hy gepraat oor infrastruktuurontwikkeling. Meer as R700 miljard se projekte sal oor die volgende tien jaar deur die Infrastruktuurfonds gefinansier word, sê die president.

Behuisingsprogramme vir gemeenskappe en studente word ook beplan.

“Verlede jaar het ek die nasie met my staatsrede gevra om by my aan te sluit om hulle ’n nuwe ‘slimstad’ in te dink. Daardie ‘slimstad’ is besig om in die omgewing van Lanseria te ontwikkel.”

Die “nasionale krisis van werkloosheid” onder die jeug is ook hoog op die regering se prioriteitslys.

“Dít is die grootste uitdaging waardeur ons in die gesig gestaar word.”

Mboweni sal later vanjaar ’n aksieplan daaroor aankondig, sê hy.

Meer oor:  Staatsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.