Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA ‘een van vuilstes’

Barbara Creecy het Suid-Afrika Donderdagaand in haar eerste begrotingstoespraak as minister van omgewingsake, bosbou en visserye uitgesonder as een van die 30 vuilste lande ter wêreld.

Creecy het dit toegeskryf aan die gebrekkige bestuur van die land se afval en die probleem van plastiek wat net een keer gebruik word.

“Die bestuur van ons afval, en in die besonder verpakkings met enkelgebruikplastiek, moet nou dringende aandag kry,” het sy gesê.

Barbara CreecyFoto: Mary-Ann Palmer

Creecy het verbruikers terselfdertyd aangemoedig om hul “gunsteling-winkels” en dié se verskaffers uit te daag om met volhoubare oplossings vir die verpakkingsprobleem vorendag te kom.

“Met verbruikersaksie en gewillige verandering kán ons ’n volhoubare en kostedoeltreffende oplossing vir hierdie uitdaging kry.”

Haar departement, waarvan die begroting vir die jaar R7,5 miljard is, teiken nou inkopiesakke en eetgerei van plastiek, strooitjies en oorstokkies.

Sy het gesê die departement se doelwit is om toe te sien dat ’n sirkulêre ekonomie geskep word waar geen afval gegenereer word nie.

Creecy het haar toespraak begin met verwysing na die kwessie van klimaatsverandering en leerlinge wat weier om op sekere Vrydae skool toe te gaan uit protes teen volwassenes wat niks doen om klimaatsverandering te stuit nie.

“Hierdie jongmense dring daarop aan dat ons na ’n klimaatnoodtoestand verwys en nié na klimaatsverandering nie.

“Die jong mense se optrede getuig van hul omvattende begrip van aardverwarming en die bedreiging wat dit vir ons ekonomie en die weefsel inhou wat ons samelewing bind.”

Sy het verwys na pres. Cyril Ramaphosa wat in sy staatsrede gesê het klimaatsverandering en die uiterste weersomstandighede wat daarmee saamgaan, bedreig die voortbestaan van die mensdom.

Volgens Creecy het die Wêreld- Ekonomiese Forum klimaatsverandering en uiterste weerstoestande soos vloede en droogtes uitgesonder as van die vyf grootste risiko’s vir die wêreldekonomie.

Creecy het gesê meer as twee miljoen Suid-Afrikaners is van die natuurlike omgewing vir hul inkomste afhanklik. 900 000 mense werk in die landbousektor, 600 000 in visserye en byna 400 000 is van verskeie aspekte van biodiversiteit vir hul voortbestaan afhanklik.

Hierdie natuurlike hulpbronne is nou onder ’n “ongeëwenaarde bedreiging” deur klimaatsverandering, omgewingsagteruitgang en die verlies aan biodiversiteit.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan eis van ons om die natuurlike omgewing minstens in dieselfde toestand as nóú agter te laat.

“Geen departement kan dít alleen doen nie. Dit sal samewerking op alle regeringsvlakke, van die sakesektor, georganiseerde arbeid en die burgerlike samelewing verg om gesamentlik op te tree.”

Sy het daarop gewys dat haar departement se Wetsontwerp op Klimaatsveranderings tans onder bespreking is.

Die doel daarvan is om ’n “regverdige oorgang” na ’n laekoolstof-ekonomie te bewerkstellig.

Die grootste uitdaging is om energie- en werksekerheid te waarborg terwyl dié dringende oorgang plaasvind, het sy gesê.

Met verwysing na lugbesoedeling in die prioriteitsgebiede die Mpumalanga-Hoëveld, die Vaaldriehoek en die Waterberg. Creecy het gesê inwoners van dié gebiede “vra onmiddellike aksie”.

“Ek het reeds met ministers (Gwede) Mantashe (van minerale bronne en energie) en (Pravin) Gordhan (minister van openbare ondernemings) gepraat.”

Creecy het benadruk dat doeltreffende wetstoepassing noodsaaklik is vir omgewingsgeregtigheid en vir die integriteit van die regulatoriese stelsel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.