Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA gee aandag aan ‘komplot’ om ambassadeur te vermoor

Suid-Afrika gee “al die nodige aandag” aan bewerings dat Iran ’n sluipmoordaanval op Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, oorweeg, sê Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid.

Marks (66), ’n Suid-Afrikaner van geboorte, het noue bande met pres. Donald Trump. Sy was ook goed bevriend met wyle Diana, prinses van Wallis.

Die Iranese ambassade in Pretoria sê daar is geen gronde vir die bewerings wat op die Amerikaanse webwerf Politico gemaak word dat Iran ’n aanslag op Marks se lewe wil doen nie.

Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika.

Dié webwerf berig volgens ’n Amerikaanse intelligensieverslag is Iran se ambassade in Pretoria betrokke by die komplot om die sluipmoord uit te voer.

Dit is glo uit weerwraak vir die Amerikaanse lugaanval vroeër vanjaar in Bagdad, die Irakse hoofstad, waarin genl. Kassem Soleimani, leier van Iran se magtige Koedsmag, dood is.

Tog maan prof. Theo Neethling, ’n politieke wetenskaplike van die Universiteit van die Vrystaat en ’n kenner van die internasionale politiek, daar is gronde om te glo dat Marks se lewe bedreig kan wees.

Marks het in Oktober verlede jaar haar geloofsbriewe in Pretoria aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig.

Die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) sê in ’n verklaring hy het interaksie met alle relevante vennote in Suid-Afrika en in die buiteland om te verseker Marks word geen leed aangedoen nie.

Dieselfde geld enige diplomate in die land.

Verslae sal later aan al die toepaslike owerhede, insluitend Ramaphosa, dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en die Amerikaanse regering gegee word.

Die lugaanval waarin Soleimani dood is, het die spanning tussen Amerika en Irak ernstig geëskaleer.

Die verhouding tussen Amerika en Iran het die laaste paar jaar versleg nadat Trump Amerika in 2018 onttrek het aan ’n kernooreenkoms met Iran waarin sy voorganger, oudpres. Barack Obama, ’n paar jaar gelede ’n groot aandeel gehad het.

Pres. Hassan Roehani van Iran het Amerika onlangs met “verpletterende optrede” gedreig as hy die verbod op die verkoop van konvensionele wapens aan Iran verleng.

Pres. Hassan Roehani van Iran spreek in September 2018 die algemene vergadering van die Verenigde Nasies in New York toe. Foto: Sarel van der Walt

Die Verenigde Nasies se embargo op algemene wapenverkope verstryk in Oktober, maar Amerika beplan om dit daarna te verleng.

Sondag het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, getwiet Iran is die wêreld se grootste geldskieter vir terreur. Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het die Twitter-boodskap gedeel.

Neethling sê Iran het al jare lank goeie intelligensienetwerke in Suid-Afrika.

“Dit sal waarskynlik makliker wees om haar hier leed aan te doen as die Amerikaanse ambassadeurs in Europese state.

“Dit is omdat Iran nie nou sy bande met die Europese Unie (EU) wil skaad deur op Europese bodem iets soos dié te wil aanvang nie,” sê Neethling.

Lana Marks, die Amerikaanse ambassadeur (links), toe sy in Oktober verlede jaar in Pretoria haar geloofsbriewe aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het. Regs is dr. Neville Marks, die ambassadeur se man. Foto: Sarel van der Walt

Hy meen dis onwaarskynlik dat die beweringe ’n Amerikaanse foefie is om die wêreld op ’n oorlog met Iran voor te berei.

“Amerikaanse presidente probeer in verkiesingsjare deurgaans oorlog of grootskaalse konflik tot elke prys vermy en dit sal bitter vreemd wees indien Trump nou by konflik met Iran betrokke wil raak.”

Iran het goeie bande met die EU, wat ook ’n sleutelrol gespeel het in die destydse kernooreenkoms.

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se woordvoerder oor internasionale betrekkinge, het ’n beroep op Pandor gedoen om Mohsen Mowahhedi Ghomi, Iran se ambassadeur in Suid-Afrika, so spoedig moontlik te ontbied om vas te stel of daar enige waarheid in die bewering oor die komplot steek.

Indien dit sou blyk dat die Iranese ambassade in Suid-Afrika op enige wyse by die aangeleentheid betrokke is, moet die ambassade sonder meer gesluit word.

’n Woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Pretoria het Maandagoggend gesê die ambassade wil in hierdie stadium geen kommentaar op die beweringe lewer nie.

Genl. Kassem Soleimani. Foto: Argief
Meer oor:  Lana Marks  |  Vermoor  |  Ambassadeur  |  Komplot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.