Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA gee miljoene se hulp

Suid-Afrika se ondersteuning vir die Saharawi Arabiese Demokratiese Republiek (SADR) en Palestina bly nie net by praatjies nie – Pretoria het reeds miljoene rande bestee aan diplomatieke dienste en hulpverlening daar.

Luwellyn Landers, adjunkminister van internasionale betrekkinge, het R10 miljoen geskenk uit sy departement se African Renaissance Fund (ARF) aan die Saharawi-vlugtelingkampe in Tindoef in Suidwes-Algerië. Hy het dié kampe verlede week besoek.

Die ARF is in 2000 gestig sodat Suid-Afrika humanitêre en verkiesingshulp aan ander Afrika-lande kan verleen.

Suid-Afrika het ook R10 miljoen aan Saharawi-vlugtelinge geskenk nadat stormreën en winde in Oktober 2015 die kampe vernietig het.

Die doel van Landers se besoek was om diplomatieke verhoudinge met die SADR te versterk. Suid-Afrika het “sy solidariteit met en ondersteuning vir die regverdige stryd van die Saharawi-mense vir selfbeskikking en onafhanklikheid” herbevestig.

Brahim Ghali, Saharawi-president, het in Junie 2018 ’n staatsbesoek aan Suid-Afrika gebring.

Marokko erken nie die onafhanklikheid van Wes-Sahara nie en die Verenigde Nasies (VN) klassifiseer dit as ’n nie-selfbeskikkende gebied.

Marokko het destyds aan die Organisasie van Afrika-eenheid onttrek omdat die SADR toegelaat is om as ’n land aan te sluit. Marokko is verlede jaar weer by die Afrika-Unie toegelaat – ’n stap waarteen Suid-Afrika gekant was.

Intussen bestee Suid-Afrika ook jaarliks R1 miljoen aan die Palestynse ambassade in Pretoria. Suid-Afrika het in die 2017-’18 finansiële jaar R11,2 miljoen geskenk aan die VN se nood­leningsagentskap vir vroue en kinders.

Ander skenkings in dieselfde jaar sluit in R16 miljoen aan eSwatini se noodvoedselbystandprojek vir kinders, R98 miljoen aan Kuba (wat in dokumente as ’n lening beskryf word), R14 miljoen vir verkiesingsbystand in Liberië, byna R10 miljoen vir droogte-hulp aan Namibië, en R866 839 vir die opleiding van diplomate van Burundi.

Stevens Mokgalapa van die DA sê daar is nie baie deursigtigheid oor hoe die ARF se geld aangewend word nie.

Meer oor:  Luwellyn Landers  |  Palestina
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.