Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA gereed vir ‘robuuste gesprekke’ by VN
Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, in New York saam met António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Foto: Twitter

Die eerste afspraak wat dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, met haar aankoms in New York gehad het, was met António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN).

Pandor lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging na vandeesweek se 74ste algemene vergadering van die VN sedert 1945. Sy word vergesel deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Barbara Creecy, minister van omgewingsake, visserye en bosbou, en Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Dit is die gebruik dat die leiers van afvaardigings met hul aankoms in New York ’n kort welwillendheidsbesoek aan die VN se sekretaris-generaal bring.

Pres. Cyril Ramaphosa het besluit om die vergadering, wat deur tientalle staatshoofde bygewoon word, nie by te woon nie omdat hy eerder aan belangrike kwessies in Suid-Afrika aandag wil gee.

Pandor het kort ná haar aankoms in New York aan die SAUK gesê die regering is baie spyt oor die onlangse aanvalle op buitelanders in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, by vlae in die gebou van die Verenigde Nasies in New York.Foto: Twitter

Een van Suid-Afrika – ’n niepermanente lid van die VN se veiligheidsraad – se mikpunte op die vergadering is om oplossings te soek om vrede in Afrika te bewerkstellig.

Volgens die departement van internasionale betrekkinge en samewerking sal Pandor in haar gesprekke met wêreldleiers vandeesweek Suid-Afrika se binnelandse en buitelandse beleidsdoelwitte en prioriteite bespreek.

Suid-Afrika is een van die lande wat wil hê die VN en sy veiligheidsraad moet hervorm word om beter aan te pas by huidige internasionale uitdagings.

Mthembu het op Twitter gesê hy en die lede van die Suid-Afrikaanse afvaardiging sien uit na robuuste besprekings op bilaterale vergaderings vandeesweek.

Die algemene vergadering van die VN sal veral fokus op die uitwissing van armoede, gehalteonderwys en klimaatsverandering.

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging sal ook hoëvlakvergaderings oor gesondheid, klimaatsverandering, volhoubare ontwikkeling, die algehele uitskakeling van kernwapens, die finansiering van ontwikkeling en die vordering wat gemaak word met die ontwikkeling van klein eilande bywoon.

Guterres sou later Maandag (SA tyd) druk op lande uitoefen om die vlakke van kweekhuisgasse te verlaag omdat klimaatsverandering ’n gevaar inhou vir stabiliteit in die wêreld, berig Al Jazeera.

Die spanning tussen Golf-state ná die onlangse aanvalle op olievelde in Saoedi-Arabië sal waarskynlik ook een van die vernaamste besprekingspunte op die vergadering wees.

Pres. Hassan Rouhani van Iran is ook in New York. Hy en die VSA se pres. Donald Trump het met verlede jaar se vergadering kwaai koppe gestamp.

Die aanduidings is dat hulle nie vandeesweek afsonderlik sal vergader oor die spanning tussen Iran en die VSA nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.