SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘SA het miljarde nodig om watersekerheid te verseker’

Suid-Afrika sal oor die volgende tien jaar sowat R900 miljard moet bestee as hy watersekerheid wil hê.

Só het Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, Donderdag gesê op ’n mediakonferensie in Pretoria waar haar departement ’n omvangryke meesterplan van 68 bladsye vir water bekend gestel het.

Lindiwe Sisulu (middel), minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, Donderdagmiddag op ’n mediakonferensie waar sy die nuwe meesterplan vir water aangekondig het. By haar sit Trevor Balzer (links), ’n raadgewer van die minister, en Mbulelo Tshangana, direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie. Foto: Sarel van der Walt

Sowat R567 miljard is beskikbaar, maar nog R333 miljard moet iewers gevind word.

Sisulu sê sy besef die plan klink “ambisieus en waaghalsig. Maar water is te belangrik vir ons om dit nie te doen nie. As ons nou optree, kan ons ’n tekort aan water van ’n voorspelde 17% in 2030 afweer.”

’n Soorgelyke plan vir sanitasie volg binnekort.

Verskeie rolspelers, onder meer uit die geledere van landbou, die sakewêreld en die burgerlike samelewing het bygedra tot die dokument.

“Die land staar ’n agterstand in die gesig met uitdagings wat dringend aandag moet kry as hy watersekerheid vir die land se inwoners en die ekonomie wil verseker.

“Ons moet aandag gee aan ons eie onvoldoende beleggings in waterinfrastruktuur en die onvoldoende bestuur van ons waterbronne.”

Die minister het erken dit word vererger deur ’n tekort aan vaardighede en spesialiste soos wateringenieurs, wetenskaplikes, hidroloë, geohidroloë en hulpbron-ekonome.

“Een gevolg is dat die voortdurende droogtes weens klimaatsverandering nie behoorlik bestuur word nie. Dit lei daartoe dat die gehalte van ons water verswak.”

Daar moet onder meer gekyk word na die ontginning van water uit ander bronne as boorgate en damme, sê Sisulu.

Sy sê die nuwe meesterplan is op beleid gegrond wat in die verlede suksesvol was.

“Ons is ’n baie droë land en die situasie sal waarskynlik weens klimaatsverandering verder versleg.

“Ons watersekerheid kan net verseker word deur ’n kombinasie van ’n goeie wedstrydplan, slim tegnologie, kundigheid, goeie mensemateriaal in die watersektor, uitstekende navorsing, inligtingstelsels, goeie wetgewing, ’n doeltreffende en ’n gekoördineerde institusionele ekostelsel.

“Bowenal moet Suid-Afrikaners leer om water spaarsamig te gebruik,” het sy gesê.

Die plan bevat ’n reeks dringende stappe wat geneem en deur alle rolspelers in werking gestel moet word om die sistematiese en infrastruktuur-uitdagings te oorkom ten einde ononderbroke water aan gemeenskappe en ondernemings te lewer.

“Water is ’n katalisator vir sowel ekonomiese ontwikkeling as werkskepping. Om beleggers te lok, moet ons seker maak daar is te alle tye water beskikbaar.”

Dit sal ’n prioriteit wees van die departement om munisipaliteite se vermoë te verhoog met behulp van ’n span van deskundiges en professionele mense wat hulle sal bystaan om die nodige kundigheid op te bou.

Die minister sê te veel munisipaliteite kom nie hul verpligtinge na nie – ondanks finansiële en tegniese ondersteuning van die regering.

“Wanneer munisipaliteite faal, moet die regering ingryp, maar dié het net beperkte bronne.

“Wanneer die regering ingryp, kom hy baie keer agter die plaaslike regering het nie behoorlik gebruik gemaak van sy eie finansiële en tegniese bronne nie.”

Weens die beperkte finansiële bronne van die regering sal die private sektor in die toekoms ook ’n groter rol moet speel en in vennootskappe met die regering moet gaan.

Ten einde die meesterplan suksesvol uit te voer, moet die regte leierskap in plek wees.

Die herstrukturering van die departement van water en sanitasie is een van die sleuteldoelwitte van die meesterplan.

Sisulu het ook gesê Suid-Afrika is in gesprek met al sy buurlande oor samewerking op die gebied van water. Daar word ook al met die waterryke Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gepraat oor die moontlikheid om water met pypleidings na Suid-Afrika te bring.

Patricia de Lille, minister van openbare werke, wie se departement vir die instandhouding van infrastruktuur verantwoordelik is, het in haar toespraak gesê mense moenie eers begin om water te bespaar wanneer ’n droogte reeds heers nie.

“Droogte het die nuwe normaal geword.”

Harde feite:

* Meer as 3 miljoen mense het nie toegang tot basiese waterdienste nie.

* Net 64% van huishoudings het toegang tot betroubare watervoorsiening.

* Net 56% van watersuiweringswerke in die land werk.

* 44% van die watersuiweringswerke is in ’n swak of kritieke toestand.

* 11% van watersuiweringswerke is wanfunksioneel;

* Meer as 50% van die land se vleilande het verlore gegaan en van dié wat nog bestaan, is 33% in ’n swak ekologiese toestand.

* Net 5% van water wat deur die landbousektor aangewend word, word deur swart boere gebruik.

* 41% van munisipale water lewer geen inkomste nie.

* 35% van munisipale water gaan verlore weens lekkasie.

* Munisipaliteite verloor sowat R9,9 miljard se water per jaar;

* R33 miljard is elke jaar oor die volgende tien jaar nodig om watersekerheid te verseker.

Ander interessanthede opmerkings van die minister:

* Die skepping van ’n nuwe water-observatorium.

* Waterlisensies vir boere sal nou binne 49 dae toegeken word “en nie in drie jaar se tyd soos vroeër die geval was nie, want boere kan nie sonder water boer nie”.

* Meer aandag sal in die toekoms gegee word aan die hervorming van die stelsels waarvolgens waterlisensies aan boere toegeken word. In dié stadium is 98% van waterlisensies in die hande van wit boere.

* Die nege bestuursagentskappe vir wateropvangsgebiede gaan heringestel word. Dít volg nadat die vorige minister, Nomvula Mokonyane, die aanvanklike nege bestuursagentskappe onder groot kritiek tot een verminder het.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Lindiwe Sisulu  |  Watersekerheid  |  Politiek  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.