Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA het sterk bande met Afrika nodig, sê Cyril

Pres. Cyril Ramaphosa het erken dat die onlangse aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika dit moeilik maak om sterker bande met ander Afrikalande te smee.

Hy sê die misleidende inligting wat op sosiale media versprei is, het bygedra tot groot woede jeens Suid-Afrika in ander dele van die vasteland. Dit het gelei tot dreigemente teen Suid-Afrikaanse ondernemings en diplomatieke missies.

Tog, sê die president in sy jongste nuusbrief From the Desk of the President wat Maandagoggend verskyn het, was die staatsbesoek van pres. Muhammadu Buhari van Nigerië verlede week aan Pretoria baie suksesvol. Hy glo Suid-Afrika en Nigerië, die twee grootste ekonomieë in Afrika, kan saam ’n groot rol in die toekoms van dié vasteland speel.

Pres. Cyril Ramaphosa (regs) en pres. Muhammadu Buhari van Nigerië Donderdag tydens ’n mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Hy en Buhari besef die sukses en stabiliteit van dié twee lande – en ook al die ander lande in Afrika – kan help om ’n meer geïntegreerde en hegter Afrika te skep. Hiervoor is sterk bande op ekonomiese, handels-, politieke, diplomatieke en mens-tot-mens-vlak tussen die lande nodig.

Die ekonomieë van Suid-Afrika en Nigerië het mekaar nodig. Meer as 100 Suid-Afrikaanse maatskappye doen in Nigerië sake en die handel tussen dié twee lande het verlede jaar sowat R50 miljard beloop.

Pres. Cyril Ramaphosa (regs) stap verlede Donderdag by die Uniegebou in Pretoria saam met Nigerië se pres. Muhammadu Buhari voor lede van die kabinet verby. Buhari was op ’n staatsbesoek aan Suid-Afrika. Foto: Sarel van der Walt

Suid-Afrika voer veral baie olie uit Nigerië in.

Ramaphosa sê daar is gedurende die sakeforum tussen die twee lande, wat met die staatsbesoek saamgeval het, benadruk dat daar heelwat beleggings tussen die twee lande is. Meer moet egter gedoen word om die struikelblokke wat bestaan uit die weg te ruim.

Daarom het die twee lande ooreengekom op ’n gesamentlike ministeriële advieskomitee oor handel, nywerheid en beleggings wat gereeld byeen moet kom om die probleme op te los.

“Suid-Afrika se toekoms lê in Afrika. Deur handel met die res van die vasteland kan ons ons nywerhede laat groei. Die markte van Afrika is waar al hoe meer van ons maatskappye handels- en beleggingsgeleenthede sal vind,” sê Ramaphosa in die brief wat voortaan ’n gereelde instelling sal wees.

“Daar sal na verwagting oor die volgende paar dekades ’n groot toename in beleggings in infrastruktuur oor die hele Afrika heen wees. Dit behoort tot voordeel te wees van Suid-Afrikaanse konstruksiemaatskappye, ondernemings en banke.”

Hy sê die groeikoers van Afrikalande saam is hoër as Suid-Afrika se eie. Dit skep geleenthede vir die ekonomie en die land se mense.

“Dit is die groot rede waarom Suid-Afrika deel geword het van die ooreenkoms oor ’n vryehandelsgebied in Afrika. Ek glo die ooreenkoms sal verandering bring tot voordeel van Suid-Afrika en die vasteland.”

Ramaphosa sê hoewel Suid-Afrika, wat in Januarie die voorsitterskap van die Afrika-unie (AU) oorneem, op die oomblik besig is met ’n omvattende veldtog om beleggings na die land te lok, moedig hy beleggings in ander dele van die vasteland aan.

“Die tyd is ryp vir ’n nuwe era van handel tussen Afrikalande. Dit sal bydra tot die skep van nuwe bedrywe in Afrika, meer werkgeleenthede en nuwe markte en dit sal Afrika stadig maar seker ’n gerekende mag in wêreldwye produksie maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.