Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA in die moeilikheid, sê Mogoeng toe hy LP’s beëdig

Alle oë sal die naweek op Pretoria gerig wees waar pres. Cyril Ramaphosa amptelik ingehuldig word en hy sy nuwe kabinet sal aankondig.

Ramaphosa word Saterdag by die Loftus Versfeld-stadion ingehuldig en sal na verwagting Sondag of Maandag sy kabinet aankondig.

Hy is geskeduleer om die staatsrede op 20 Junie om 19:00 in die Nasionale Vergadering (NV) te lewer.

Dit volg nadat die 400 lede van die NV Woensdag en die 54 permanente lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) Donderdag deur hoofregter Mogoeng Mogoeng as LP’s beëdig is.

Hoofregter Mogoeng MogoengFoto: Mary-Ann Palmer

Mogoeng het Donderdag die LP’s van die NRP, kort voordat hulle beëdig is, aangemoedig om vir drie minute lank doelbewus vir oplossings vir die land en Afrika se probleme te bid.

“Dit is nie ’n oefening om aandag te trek nie – ek het nie aandag nodig nie. Al wat ek sê, is dat die land in die moeilikheid is. Die vasteland van Afrika is in die moeilikheid. Vir diegene wat wil mediteer, mediteer op die uitdagings wat Suid-Afrika en Afrika in die gesig staar.”

Voordat die LP’s beëdig is, het Mogoeng verwys na een van die aangewese lede van die NRP wat tronkstraf uitgedien het en op parool vrygelaat is.

Hy het art. 106 van die Grondwet aangehaal wat sê dat enigiemand wat skuldig bevind is en tronkstraf van langer as 12 maande opgelê is sonder die opsie van ’n boete en waar vyf jaar nog nie verstryk het vandat die vonnis uitgedien is nie, gediskwalifiseer word om ’n LP of lid van ’n provinsiale wetgewer te word.

Mogoeng het gesê dié bepaling is nie van toepassing op die aangewese LP nie omdat dit eers later in werking getree het. “Met die inligting tot my beskikking is die spesifieke lid in 1989 skuldig bevind en die Grondwet het in 1996 van toepassing geword.”

Mogoeng het nie die LP se naam genoem nie, maar dit was in verwysing na Kenny Motsamai, EFF-lid, wat vroeër ’n militêre bevelvoerder van Apla was. Hy het 28 jaar tronkstraf uitgedien vir die moord op ’n verkeersbeampte in die laat 1980’s in Rustenburg.

Onder die nuwe LP’s in die NRP tel Maurencia Gillion, Wes-Kaapse ANC-tesourier wat vroeër geskors is weens ’n omstrede skenking van R1 miljoen deur Iqbal Survé aan die party, maar wie se skorsing later opgehef is.

Yunus Carrim, voormalige voorsitter van die staande komitee oor finansies, is ook een van die nuwe lede.

Amos Masondo, nuutverkose voorsitter van die NRP, het Donderdag in sy aanvaardingstoespraak gesê die nuwe LP’s en leiers van die raad beloof om alle mense van Suid-Afrika, ongeag hul klas, ras, geslag of godsdiens, en sonder enige diskriminasie te dien.

Sylvia Lucas, voormalige Noord-Kaapse premier, is tot adjunkvoorsitter en Seiso Mohai, ANC-LP, tot hoofsweep verkies.

Die geleentheid is ook deur verskeie premiers soos David Makhura van Gauteng, Sihle Zikalala van KwaZulu-Natal, Job Mokgoro van Noordwes, Sisi Ntombela van die Vrystaat en Refilwe Mtsweni van Mpumalanga, en verskeie ander gaste bygewoon.

Masondo het verder in sy toespraak belowe dat dit sy en die ander lede se vernaamste prioriteit sal wees om die mense van die land te dien.

“Ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om julle weer te verseker dat ons alles moontlik sal doen om die kuns van doen te bemeester en te verdiep. Ons sal nie meer net teoreties met kwessies omgaan nie, hoe belangrik dit ook al mag wees. Ons sal met die moeilikstes worstel. Ons sal daarna streef om hierdie kultuur uit te bou soos ons met kritieke kwessies in die konteks van samewerkende regering handel. Die NRP se aandag sal daarom voortaan op hierdie belangrike kwessie wees.”

Masondo het gesê die NRP verteenwoordig al nege die provinsies om te verseker dat provinsiale belange in die nasionale regeringsfeer in ag geneem word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.