Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA is aan die herstel, sê Cyril

Daar is duidelike tekens dat Suid-Afrika besig is om van die verwoesting van die Covid-19-pandemie te herstel, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Maandag in sy weeklikse nuusbrief geskryf dat dít die versterking van die rand, ’n rekord-handelsoorskot en groei in mynbou, finansiële dienste en vervaardiging insluit.

Ook die 700 000 werkgeleenthede wat tot dusver deur sy presidensiële indiensnemingstimulus-pakket geskep is, en groter beleids- en regulatoriese sekerheid in veral die energie- en telekommunikasie-sektore.

Ramaphosa skryf verder dat hy om dié rede ’n boodskap van hoop oor Suid-Afrika se vooruitsigte vir herstel sal neem na die G7-beraad, wat hy later vandeesweek in Brittanje bywoon.

Suid-Afrika is saam met Suid-Korea, Australië en Indië as gaste genooi na dié beraad van die wêreld se sewe grootste en gevorderdste ekonomieë, naamlik Duitsland, Italië, Kanada, Frankryk, Japan, Brittanje en Amerika.

Ramaphosa erken egter dat nie alle Suid-Afrikaners gereed is vir so ’n boodskap van hoop nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 28: President C
Pres. Cyril Ramaphosa op 28 April vanjaar in Johannesburg. Foto: Gallo Images

“As tye moeilik is, is dit maklik om pessimisties te wees. Dit is verstaanbaar dat burgers gefrustreerd kan wees met die stadige pas van verandering en voel dat ons probleme onoplosbaar blyk te wees.

“Ons hoë werkloosheid(-syfer) het byvoorbeeld nie verbeter sedert die wêreldwye finansiële krisis van meer as ’n dekade gelede nie en is vererger deur die pandemie.”

Hy meen dat Suid-Afrikaners egter soms só geabsorbeer is deur die tekortkominge dat hulle dikwels nie “wat ons reg doen en waar dinge verbeter”, erken nie.

Volgens hom maak die land vordering om baie van sy probleme op te los, soos met korrupsie, die elektrisiteitstekortkominge en hindernisse wat beleggings ontmoedig. Dít terwyl die pas van hervorming ook toeneem.

Ramaphosa erken dan ook dat sy regering tekortkominge het, maar werk om dit reg te stel.

“Optimisme is die grondslag van vordering en hoop is die metgesel van ontwikkeling. Hoewel sommige van ons dalk sinies is, moet ons sorg dat die vordering wat ons maak om die onmiddellike krisis te oorkom, ons motiveer om nog beter te doen.”

Optimisme is die grondslag van vordering en hoop is die metgesel van ontwikkeling
Pres. Cyril Ramaphosa

Hy verwys dan ook na hoe Suid-Afrikaners die afgelope 18 maande saam geveg het teen die koronaviruspandemie.

Berade soos die G7-beraad is volgens Ramaphosa ’n geleentheid om Suid-Afrika en Afrika te bevorder as ’n beleggings- en sakebestemming, sowel as ’n bondgenoot vir die oplossing van die dringendste internasionale maatskaplike en politieke kwessies.

“Ons afvaardiging na die G7-beraad sal in staat wees om te praat oor die vordering wat ons maak om die pandemie te oorkom en maatreëls wat getref is vir ons nasionale herstel, wat stadig maar seker resultate lewer.

“Ons sal kan praat oor die groen lote van ekonomiese vordering waarvan ek verlede week in die presidensie se begrotingsrede in die parlement gepraat het. Daaronder tel die tasbare resultate van verbintenisse wat dié administrasie gemaak het om probleme op te los wat lank ons ekonomiese groei belemmer het.”

Volgens Ramaphosa is die G7-beraad ook ’n geleentheid om breër steun te werf vir Suid-Afrika, Indië en meer as 100 ander lande se versoek dat vervaardigers van entstowwe die patentreg daarop tydelik opsy moet skuif om ander lande in staat te stel om self entstowwe te vervaardig.

Meer oor:  G7-Beraad  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Werksgeleenthede  |  Nuusbrief  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.