Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA kiesstelsel pootjie LP’s se toesigrol – Zondo

Indien die huidige kiesstelsel in Suid-Afrika net so gelos word, sal die parlement in die toekoms nie enigsins ’n beter rol speel as in die afgelope jare om staatskaping en ’n groot toename in korrupsie te keer nie.

Dié uitspraak is Vrydag deur adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, gemaak toe hy verwys het na die moontlikheid dat die kiesstelsel dalk verander moet word sodat parlementslede in hul parlementêre toesigrol beter teen hul eie politieke partye beskerm kan word.

Zondo het gesê hy dink dit sal belangrik wees vir alle Suid-Afrikaners om ’n nuwe stelsel te oorweeg om die een of ander beskerming aan parlementslede te bied “wat die regte ding vir die land wil doen” in gevalle waar hul politieke partye nie dieselfde dink nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Skermgreep

Volgens Zondo is daar getuienis voor die kommissie dat daar geen behoorlike toesig in die parlement was nie. “Natuurlik is daar sekere komitees wat klaarblyklik regtig probeer het, maar grotendeels blyk dit dat die toesigrol hoofsaaklik vervul word deur die opposisiepartye, en nié deur die meerderheidsparty nie,” het Zondo gesê.

Hy het vrae aan James Selfe, DA-LP, oor laasgenoemde se ervaring van die toesigrol van komitees in die parlement gestel.

Selfe het getuig dat talle LP’s wat al saam met hom in portefeuljekomitees gedien het, nie by die Grondwet gehou het en ook nie hul pligte uitgevoer het nie. Een van die redes is dat LP’s in die algemeen, en veral in die ANC, nie hul toesigrol onafhanklik kan vervul nie.

Selfe het gesê volgens Suid-Afrika se kiesstelsel stem kiesers nie vir ’n bepaalde kandidaat nie, maar vir ’n politieke party. Die politieke party kry dan daarvolgens verteenwoordiging in die parlement, afhangende van die aantal stemme wat die party gekry het.

Hoewel kandidatelyste op die vlak van plaaslike takke en provinsies sy ontstaan het, is dit uiteindelik die uitvoerende bestuur van ’n party wat dié lyste saamstel. Die lyste is “hoogs gesentraliseer en ondersteun nie onafhanklikheid nie”, het Selfe getuig.

Volgens hom stel die DA ’n alternatiewe kiesstelsel vir die land voor. Die beter keuse sal wees dat parlementslede in kiesafdelings verkies word, wat dan sal beteken dat ’n parlementslid ’n onafhanklike mandaat het, nie van ’n party nie, maar van die kiesafdeling.

Zondo het hierop gesê dit lyk vir hom indien die land ’n kiesafdelingstelsel vir parlementslede gebruik, kan die lede dan in gevalle soos mosies van wantroue teen ’n bepaalde president stem en getrou wees aan die parlementêre eed wat hulle afgelê het. Indien die politieke party waaraan hulle behoort hulle dan wil straf, sal dit nie wees om uit die party geskop te word en hulle in die proses hul posisies as parlementslede kan verloor nie. Die parlementslid sal weet dat sy party hom nie gaan bevorder tot ’n adjunkminister of minister nie, maar hy sal darem nie sy werk verloor nie.

“In so ’n geval kan die parlementslid besluit wat goed is vir die republiek,” het Zondo gesê.

Selfe het getuig wanneer ’n parlementslid geskors kan word vir ’n meningsverskil met die party, veroorsaak dit ’n “ysige wind” wat op ’n mens waai wanneer jy jou toesigrol moet vervul.

“Soos ek van kollegas verstaan, is daar nagevolge vir die lede van portefeuljekomitees wat moeilike vrae aan ministers en lede van die uitvoerende bestuur vra,” het Selfe getuig.

Meer oor:  Raymond Zondo  |  Kiesstelsel  |  Toesigrol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.