Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘SA media het wanbeeld oor aanvalle geskep’ – Pandor

Niemand het weens die aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika van haar weggehardloop toe sy die naweek die begrafnis van Zimbabwe se oudpres. Robert Mugabe (95) in Harare bygewoon het nie.

Dr. Naledi Pandor Maandag op ’n mediakonferensie in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Baie van die staatshoofde en ministers van ander Afrikalande het eerder met haar kom gesels om die aanvalle hok te slaan, sê dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Sy het op ’n voorligtingsessie by die departement van internasionale betrekkinge en samewerking se hoofkantoor in Pretoria die Suid-Afrikaanse media daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik is vir die opvatting dat Suid-Afrika ’n xenofobiese land is.

Pandor sê met die aanvalle was daar eerder tekens van misdadigheid.

Meer as tien mense – hoofsaaklik Suid-Afrikaners – is dood in die aanvalle waarin die winkels en eiendom van veral buitelanders in Gauteng beskadig is.

Die aanvalle het groot spanning tussen Suid-Afrika en verskeie Afrikalande veroorsaak.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat Saterdag op Mugabe se begrafnis uitgejou is en om verskoning gevra het vir die aanvalle, het intussen ’n span spesiale gesante na sewe Afrikalande gestuur in ’n poging om die land se beeld in Afrika te herstel.

Dié lande is Nigerië, Niger, Ghana, Senegal, Tanzanië, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Zambië. Die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sal ook deur Ramaphosa se spesiale gesante op die hoogte gebring word van Suid-Afrika se planne om ’n herhaling van die aanvalle te voorkom.

Die drie gesante is oudminister Jeff Radebe, die ambassadeur Kingsley Mamabolo en die ANC-veteraan dr. Khulu Mbatha.

Pandor sê die gesante is voor hul vertrek breedvoerig ingelig – onder meer deur die Staatsveiligheidsagentskap.

Pandor sê sy het nog nie enige terugvoering ontvang nie.

“Dit is nog te vroeg. Hulle het eers vandag hul eerste twee afsprake gehad,” het die minister in antwoord op ’n vraag gesê.

“Ons sal nie ná elke ontmoeting terugvoering gee nie, maar wel ’n mediakonferensie hou wanneer hulle terug is.”

Die hoofdoel van die voorligtingsessie was om joernaliste in te lig oor die 74ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies wat later vandeesmaand in New York plaasvind, maar die meeste vrae van joernaliste het gehandel oor die aanvalle op buitelanders.

Ek sal ook die boodskap oordra dat Suid-Afrika hard werk om te keer dat dit nie weer gebeur nie.

Pandor sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging na New York lei in die plek van Ramaphosa wat besluit het om by die huis te bly om aan plaaslike krisisse aandag te gee.

Die minister sê haar boodskap aan die VN sal wees dat Suid-Afrika die aanvalle op buitelanders in ’n ernstige lig beskou en dat buitelanders in die land welkom is.

“Ek sal ook die boodskap oordra dat Suid-Afrika hard werk om te keer dat dit nie weer gebeur nie.”

Dit is die derde keer sedert 2008 wat daar ernstige gevalle van aanvalle op buitelanders was. Daar was in 2015 ook ernstige voorvalle van dié aard.

Pandor sê daar sal opnuut “brûe gebou” word met Afrikalande wat deur Suid-Afrika erken word vir hul groot rol in die stryd om die land te bevry.

“Dalk het ons sedert 1994 – ná aanvanklike sukses met die inskakeling van ander lande se burgers in ons land – nie genoeg gedoen om kohesie met hulle te verbeter nie.

“Ons sal nouer saamwerk met diplomatieke verteenwoordigers hier in Suid-Afrika om maniere te vind om programme te begin om kohesie te verbeter,” sê sy.

“En natuurlik moet immigrasie baie beter bestuur word.”

Húlle gaan na VN:

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, se afvaardiging wat volgende week die 74 ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) in New York sal bywoon, sluit drie van haar kollegas in.

Hulle is dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Barbara Creecy, minister van omgewingsake, vissery en bosbou, en Jackson Mthembu, minister in die presidensie.

Die afvaardiging is kleiner as in die verlede om koste te bespaar.

Dié vergadering lui die sogenaamde Nelson Mandela-dekade van vrede in waartoe Suid-Afrika die VN verlede jaar met die 73ste algemene vergadering oortuig het.

Met vanjaar se vergadering, wat van 24 tot 30 September gehou word, sal die VN fokus op veral die uitwissing van armoede, gehalteonderwys en klimaatsverandering.

Die Suid-Afrikaanse afvaardiging sal ook hoëvlakvergaderings oor gesondheid, klimaatsverandering, volhoubare ontwikkeling, die algehele uitskakeling van kernwapens, die finansiering van ontwikkeling en die vordering wat gemaak word met die ontwikkeling van klein eilande, bywoon. – Sarel van der Walt

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Naledi Pandor  |  Zimbabwe  |  Geweld  |  Xenofobie  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.