Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: ‘SA mense se lewens maak saak’

Die staat van inperking was die regte besluit en die doeltreffendheid daarvan sal in die verloop van die volgende paar dae wetenskaplik ontleed word.

So het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag gesê ten tyde van ’n besoek aan die hoofkwartier in Johannesburg van die sentrale bevelsentrum oor watersake in Suid-Afrika.

“Natuurlik raak dit die ekonomie negatief, maar dis belangrik om lewens te red. Ons mense se lewens maak saak,” sê hy.

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het verlede week aangekondig dat die beheer oor water in Suid-Afrika nou by Rand Water in Johannesburg gesentraliseer is.

“Ons sal die water herlei na waar dit die meeste nodig is,” sê Sisulu.

Pres. Cyril Ramaphosa se temperatuur word gemeet by sy aankoms by Rand Water in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Die sentrum beheer ook die verskaffing van tenkwaens en watertenks.

Ramaphosa beskryf dié beheerprojek as “van wêreldklas” en sê sowat 400 000 watertenks is bekom.

“Een van die beste maniere om die verspreiding van die koronavirus te keer, benewens om ’n gesonde afstand te handhaaf, is om op persoonlike higiëne te fokus.

“Baie van ons mense sê hulle het nie toegang tot water nie, daarom gaan daar met dié massiewe projek watertenks oor die land heen versprei word,” sê hy.

“Selfs in die mees afgeleë gebiede.”

Pres. Cyril Ramaphosa en Lindiwe Sisulu spreek die media toe by die sentrale bevelsentrum vir water by Rand Water in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Hoewel die meeste Suid-Afrikaners die staat van inperking se regulasies nakom, is daar groepe mense wat aangaan asof die virus nie bestaan nie, sê Ramaphosa­.

“Suid-Afrikaners moet dit ernstig opneem. Ek kan wel sê indien ons Suid-Afrika nie ingeperk het nie, sou ons infeksiekoers sonder twyfel baie hoër gewees het. Die inperking is vir alle doeleindes die belangrikste maatstaf wat ons kan gebruik om lewens te red en die verspreiding van die virus te keer.”

Volgens die president is sy grootste uitdaging naas die virus om na die land se ekonomie om te sien.

“Ons moet seker maak ons ekonomie is in ’n posisie om ons burgers se bestaan ná die virus te verseker. Ons sal met strategieë en planne vorendag kom om Suid-Afrika se kwessies ná die uitbreking te hanteer.”

Ramaphosa het nie gesê of die staat van inperking ná 16 April verleng sal word nie.

Hy het ook onderneem om Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, te ontbied nadat ’n foto aan die lig gekom het waar sy glo ten tyde van die inperking middagete saam met vriende geniet.

“As jy by iemand besoek aflê, moet dit werkverwant wees. Soos hierdie besoek; ek is hier vir werk, maar hierna gaan ek huis toe. Ek gaan nie na my suster of ’n ander familielid nie.

“Dit is wat die inperking van ons vereis.”

Intussen het verskeie gemeenskapsorganisasies, waaronder die Helen Suzman-stigting, hul kommer in ’n verklaring uitgespreek oor die magsvergrype deur wetstoepassers en die weermag om die staat van inperking af te dwing en versoek hulle Ramaphosa en die betrokke ministers om toe te sien dat dié mense ingevolge die Grondwet optree en toe te sien dat daar ’n behoorlike oorsigrol is.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gister in Sandton by die oorhandiging van geskenkte beskermende toerusting van die stigting van die sakeman Patrice Motsepe aan die departement van gesondheid gesê ’n 60-jarige man van Park­lands wat ook fase-vier-prostaatkanker gehad het, is die nuutste slagoffer van Covid-19.

Dit bring die sterftesyfer op 13 te staan.

Daar is nou 1 749 mense wat reeds positief getoets is.

Mkhize het ook aangekondig dat nou in alle provinsies met massatoetsing begin is.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Lindiwe Sisulu  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.