Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA ‘met rug teen muur’ oor ekonomiese ontwikkeling
Oudmin. Jeff RadebeFoto: Daily Sun

Suid-Afrika is met sy rug teen die muur en die enigste manier hoe die land ekonomiese groei op kort termyn kan bespoedig, is om die private sektor aan die voortou daarvan te plaas.

“Hulle (die private sektor) moet voor aan die poging wees om beleggings te bespoedig en daar moenie net belowe word (soos die regering tans maak) dat beleggers wins op hul beleggings hier sal maak nie,” sê prof. Michael Sachs van die Universiteit van die Witwatersrand.

Sachs het dit Donderdagmiddag in ’n aanlyn ANC-debat oor die ANC se besprekingsdokument oor ekonomiese transformasie en voorspoed gesê. Die debat is onder leiding van oudminister Jeff Radebe, ANC-beleidshoof, gehou.

Die besprekingsdokument is een van verskeie wat die ANC tans openlik bespreek ter voorbereiding van sy komende nasionale hoofraadsvergadering.

Sachs is ’n medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand, waarnemende voorsitter van die fiskale- en finansies-kommissie en voormalige hoof van die nasionale tesourie se begrotingskantoor. Hy het voorheen ook vir nege jaar by die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, Luthuli-huis, gewerk waar hy ekonomiese beleid en navorsing vir die regerende party gekoördineer het.

Volgens hom is sy uitlatings oor die private sektor nie omdat hulle beter is nie, “maar slegs ’n erkenning dat ons rug teen die muur is”.

“En die tyd raak min. As ons nie in staat is om ’n weg vorentoe te artikuleer en die kompromieë te maak wat nodig is nie, kan ons ’n rowwe rit vorentoe verwag.”

Sachs het saamgestem dat die weg na ekonomiese herstel op lang termyn deur strukturele hervorming moet wees, “maar elkeen het ’n ander mening oor wat strukturele hervorming is”.

En die tyd raak min. As ons nie in staat is om ’n weg vorentoe te artikuleer en die kompromieë te maak wat nodig is nie, kan ons ’n rowwe rit vorentoe verwag.

“Ons sit tans met ’n ANC-beleidsraamwerk wat ’n uitbreiding van regeringsbesteding in die vooruitsig stel, maar met ’n fiskale raamwerk wat ’n aansienlike inkrimping daarvan in die vooruitsig stel. Daar is egter geen manier hoe dit vermy kan word sonder om iewers pyn in die stelsel te vat nie. En ons sal op die een of ander wyse regeringsbesteding moet verminder,” sê hy.

“As ons egter nie bereid is om eksplisiete keuses of besluite te maak en aan ons kamerade te sê dat ons nie dít kan bekostig omdat ons doelwit anders is nie, of as ons aanhou voorgee dat almal alles kan kry wat hulle wil hê, sal ons as die ANC ons toenemend bevind as ’n land van teleurstellings en teleurgestelde mense. Ons moet onsself dus afvra of die ANC in staat is om ons vorentoe te neem.”

Radebe het in reaksie hierop gesê dat ekonomiese wisselvalligheid en beleidsonsekerheid van die sleutelkwessies is wat die ANC sal moet oplos.

Dr. Alex Mashilo, lid van die sentrale komitee van die SAKP en spesiale adviseur vir Stan Mathabatha, premier van Limpopo, het op sy beurt gesê die groot vraag vir die ANC moet wees hoe hy die massas gaan bemagtig wat tans geen aandeel in die rykdom van Suid-Afrika het nie.

“Dit is sodat ons nie net voortgaan om ’n beleid na te streef om ’n paar swart individue te bemagtig terwyl die miljoene ander swart mense in armoede leef, uitgebuit word, honger ly en nêrens heen op pad is nie,” waarsku Mashilo.

“Die gevolg is dat hulle hul steun aan die ANC gaan onttrek weens die ernstige druk op grondvlak. Ons moenie daar beland nie.”

Meer oor:  Alex Mashilo  |  Ekonomiese Groei  |  Michael Sachs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.