Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA moet verenig soos toe Madiba vrygelaat is – Cyril

’n Uitlating wat oudpres. Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 ná sy vrylating ná 27 jaar in die tronk gemaak het, bly hom 30 jaar later steeds by en is vandag opnuut nodig, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Cyril Ramaphosa (links), nou president van Suid-Afrika, en oudpres. Nelson Mandela enkele dae nadat Mandela op 11 Februarie 1990 ná 27 jaar in die tronk in die Paarl vrygelaat is. Foto: Argief

Mandela het gesê dat “die hereniging van die mense van Suid-Afrika nou net so belangrik is soos dit altyd was”.

Dit geld vandag steeds en is soos destyds broodnodig as die land sy uitdagings wil oorkom, sê Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

Ramaphosa, wat langs Mandela gestap het toe hy uit die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl vrygelaat is, sê hy onthou daardie dag nog baie goed.

Wat hom bybly, is die groot skare mense wat daardie oggend buite die gevangenis op Mandela se vrylating gewag het en die groot skare wat hom later dieselfde dag op die Parade in Kaapstad ingewag het.

Die oomblik toe Mandela deur die hekke van die gevangenis na vryheid stap, het ’n nuwe daeraad vir die land aangebreek, sê Ramaphosa.

“Selfs ná Madiba se vrylating en die ontbanning van organisasies (soos die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty) was die oorgang na demokrasie moeilik.

“Duisende mense is dood in politieke geweld wat doelbewus aangehits is om die onderhandelingsproses te destabiliseer.

“Daar was aanvanklik baie min ooreenkomste en selfs vertroue tussen die onderskeie partye oor hoe die land in die toekoms moes lyk.

“By baie geleenthede het gebeure (slagtings) soos dié by Boipatong (Vaaldriehoek) en Bhisho (Oos-Kaap) en die sluipmoord op Chris Hani (aan die Oos-Rand) gedreig om die onderhandelingsproses te ontspoor,” skryf Ramaphosa.

Nogtans is Suid-Afrikaners vier jaar later stembus toe om ’n demokraties verkose regering te verkies.

“Ek glo dit kon slegs bereik word omdat daar eenheid onder die mense en ’n gedeelde behoefte aan vrede en demokrasie was.

“Op die oomblik staan ons voor uitdagings van ’n heeltemal ander aard,” skryf die president.

“Ons demokrasie is goed ingegrawe en ons instellings robuus en volhoubaar. Ons het vrede en oor die afgelope 25 jaar het ons mense verbeterings op die meeste gebiede beleef.”

Die land het steeds ’n moeilike pad vorentoe. Die ongelykheid in die land is van die hoogste in die wêreld.

Werkloosheid en armoede is aan die toeneem en daar is te veel geweld. Veral dié van mans teenoor vroue.

Ek glo dit kon slegs bereik word omdat daar eenheid onder die mense en ’n gedeelde behoefte aan vrede en demokrasie was.

“Om dié uitdagings te oorkom moet ons verenig wees.

“Ons geskiedenis wys ons kan selfs die byna onmoontlike oorkom wanneer ons saamwerk,” sê Ramaphosa.

“Die vrylating van Mandela, soos die einde van apartheid, is bereik deur verenigde en volgehoue aksie. Ons het dit bereik deur ons verskille opsy te skuif en ’n gesamentlike doel na te streef.

“Terwyl ons dié heuglike gebeurtenis (die vrylating van Mandela 30 jaar gelede) vier, het ons steeds ’n gemeenskaplike doel: ’n regverdige en voorspoedige Suid-Afrika waarin almal ’n beter lewe het en almal hul potensiaal kan bereik.”

Dit alles kan bereik word as daar nouer op alle vlakke saamgewerk word – van regeringsvlak tot op gemeenskapsvlak en van akademici tot tradisionele en kerkleiers.

Hierdie verhoudings moet nou verdiep word om seker te maak dit het ’n groter invloed en is meer inklusief.

“Ek sluit af met ’n paar woorde van Madiba daardie dag: ‘Dit is nou tyd om die stryd op alle vlakke te verskerp. As ons nou ons pogings verslap, sal dit ’n fout wees waarvoor toekomstige geslagte ons nie sal vergeef nie’,” skryf Ramaphosa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.