Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA nader aan wetgewing oor kubermisdaad

Suid-Afrika is uiteindelik ’n stap nader aan omvattende wetgewing oor kubermisdaad. Dit sal onder meer die skadelike verspreiding van pornografie of sogenaamde “wraakpornografie” aanlyn óf die dreigement om dit te doen, ’n misdaad maak.

Dit volg nadat die meeste politieke partye in die Nasionale Vergadering Woensdagmiddag wysigings aan die Wetsontwerp oor Kubermisdade aanvaar het.

Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, het dit daarna na pres. Cyril Ramaphosa verwys om dit as wet te bekragtig.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, het in sy toespraak oor sy komitee se wysigings aan die Nasionale Vergadering gesê dat Suid-Afrika tans geen omvattende en eenvormige wetgewing het om kubermisdade te vervolg nie.

“Dit terwyl daar ook geen samehorige en georganiseerde benadering bestaan oor hoe om kubermisdade te beveg nie.

Dit sal ook kinderpornografie of die seksuele uitbuiting van kinders omvattend kriminaliseer en in die pas met alle plaaslike wette hier én met internasionale konvensies bring.

“As dit bekragtig word, sal dit ook die heel eerste nie-binêre wetgewing in Suid-Afrika wees.

“Dit sal ook verseker dat Suid-Afrika vir die eerste keer ’n omvattende wetgewende raamwerk teen kubermisdade kry wat van uiterste belang is.”

Volgens Magwanishe sal die wetsontwerp verder bydra tot die beskerming van vroue en kinders in die kuberruim-arena. “Dit sal die dade van diegene wat hulle uitbuit, kriminaliseer. Dit sal ook die openbaarmaking van intieme databoodskappe kriminaliseer.”

Vroeër is berig hoe die wetsontwerp “die skadelike verspreiding van pornografie of sogenaamde “wraakpornografie” aanlyn óf die dreigement om dit te doen, sal kriminaliseer”.

“Dit sal ook kinderpornografie of die seksuele uitbuiting van kinders omvattend kriminaliseer en in die pas met alle plaaslike wette hier én met internasionale konvensies bring,” is berig.

Nomathemba Maseko-Jele, nog ’n ANC-LP, het bygevoeg dat die “toename in kubermisdaad en kuberaanvalle in Suid-Afrika ’n groot bron van kommer is”.

“Ons was sonder so ’n omvattende regsraamwerk baie kwesbaar daarteen. Die Wêreld Ekonomiese Forum het reeds in 2015 geraam dat Suid-Afrika se ekonomie jaarliks verliese van sowat R5,8 miljard weens kubermisdaad ly.”

Volgens haar sal die wetsontwerp daarom Suid-Afrika en sy inwoners beskerm.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, het lof gehad vir die tans “goed deurdenkte en lang verwagte” wetsontwerp wat uiteindelik na agt volle jare as wet bekragtig sal word.

“Kubermisdade kos die land jaarliks miljard rande en ons is een van die drie mees geteikende nasies.”

Volgens haar gaan die goeie wetgewing egter in die praktyk gebrekkig bevind word weens die “regerende party se onvermoë om dit deeglik te kan afdwing”.

“Wat kommerwekkend is, is die polisie se onvermoë om op polisiekantoorvlak die misdade soos vervat in die wetsontwerp, te kan ondersoek.

“Hulle het reeds nie die vaardighede en kapasiteit om polisielede op te lei om basiese misdade te beveg nie, wat nog van kubermisdade van ’n tegniese aard?”

Sy meen as die ANC-regering ernstig is oor die ekonomie, moet hulle die wetsontwerp ernstig opneem.

Yoliswa Yako, EFF-LP, het gesê dié party se aanvanklike vrese met die wetsontwerp was dat dit uiteindelik landsburgers se regte tot privaatheid op ’n skinkbord aan “ministers kan oorhandig wat hul private kommunikasie daarmee sal kan onderskep”.

Sy het bygevoeg dat die EFF ook vrees dat die ANC die wetsontwerp kan misbruik.

Meer oor:  Kubermisdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.