Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'SA sal nagmerrie word met Ace as president'

Met Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige Vrystaatse premier, as president van die land, sal Suid-Afrika ’n nagmerrie word en ’n mens kan net hoop en bid dit gebeur nie.

Só sê politieke ontleders en politici wat hieroor gevra is en ook oor Magashule se onlangse uitlating in Bloemfontein waar hy gesê het “die Vrystaat was ’n paradys toe ek die premier was en ek het nooit die geld vir tenders gesentraliseer terwyl ek die premier was nie”.

Ace Magashule Foto: Argiewe

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê dit is natuurlik nooit onmoontlik dat Magashule tog die president van die land kan word nie “en dit beteken nie dat jy met jou verbeelding op hol gaan nie”.

Hy het Maandag aan Netwerk24 gesê hy meen Magashule het die resep in die Vrystaat vervolmaak om voormalige Vrystaatse leiers soos Mosiuoa Lekota, Ivy Casaburri, Winkie Direko en Beatrice Marshoff te ondermyn totdat hy die premier geword het. Pres. Cyril Ramaphosa sal moet ligloop of Magashule gebruik dieselfde resep om president te word.

Prof. Hussein Solomon, hoof van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, sê: “ ’n Mens hoef net na Ace se tuisdorp, Parys, te gaan kyk om te sien wat hy gedoen het en wat hy nie gedoen het nie. Die wonderlike Parys waar die riool in strome oral uitloop.”

Hy sê Magashule het as premier ongekwalifiseerde mense in poste by Vrystaatse munisipaliteite en provinsiale departemente aangestel, wat dienslewering inmekaar laat tuimel het.

“Ons Vrystaatse munisipaliteite vaar nie goed nie en die ouditeur-generaal (OG) sê dit in sy verslae.

“Met Ace se kaderontplooiingsbeleid het hy veroorsaak dat die staat nie meer kan funksioneer nie, terwyl hy geen verantwoordelikheid wil aanvaar nie. Die gehalte van die werk deur kontrakteurs wat in sy ampstermyne aangestel is, soos met die bou van paaie en Hop-huise, het eenvoudig ver tekort geskiet. Projekte soos die asbesdak-krisis is deel van sy nalatenskap.”

Prof. Hussein Solomon

Op die vraag of Magashule nog president kan word, sê Solomon: “Kyk, ek hoop en bid dat dit nooit sal gebeur met sy beleid van radikale ekonomiese transformasie nie, want dit sal ’n replika van die oudpres. Jacob Zuma-era wees.

Mxolisi Dukwana

Mxolisi Dukwana, leier van die teenkorrupsie-groepering in die Vrystaatse ANC, sê Magashule het ’n toksiese omgewing in die provinsie geskep.

“Hy het toksiese volgelinge aangestel en sy woord was wet. In sy drome was die Vrystaat onder hom dalk ’n paradys, maar vir die gewone mense was dit ’n ramp.”

Magashule het besluit wie kry wat in die Vrystaat en wie word aangestel.

“Hy moet die volle blaam dra vir dit wat verkeerd geloop het.”

Dukwana sê as Magashule president word, “sal dit ’n nagmerrie wees”.

Jankielsohn sê met Magashule se omstrede Letlaka-kommunikasiekontrakte in die Vrystaat het hy kommunikasie in sy premierskantoor gesentraliseer.

Al die Vrystaatse departemente se kommunikasie- en advertensietenders was deur sy premierskantoor beheer en sy kantoor was die implementeringsagent vir die kontrakte met Letlaka Media van Tumi Ntsele, met wie hy noue bande gehad het.

“’n Verslag van die nasionale tesourie het bevind dat die polisie dié kontrakte moet ondersoek.”

Jankielsohn sê daar is voor die Zondo-kommissie getuig dat die New Age-koerant van Letlaka van 2011 tot 2018 R79,3 miljoen van die Vrystaatse provinsiale regering ontvang het en dat die grootste gedeelte (R53 miljoen) deur Magashule se premierskantoor uitbetaal is.

Dr. Roy Jankielsohn

“’n Baie winsgewende webwerf-kontrak van R40 miljoen is ook aan Ntsele se maatskappy toegeken.”

Hy sê Magashule het ook tien miljoene rand aan Hlasela TV bestee, en die kontrak is ook aan Ntsele as politiek gekonnekteerde sakeman toegeken.

Jankielsohn sê Magashule het die kaderbeleid effektief toegepas en het sy faksie se kaders in al die invloedryke poste aangestel.

“Hy het dan van binne die administrasie beheer oor die toekenning van die tenders toegepas.

“Buite die provinsiale regering het Magashule ook groot maatskappye gehad wat die verlengstuk van sy kaderbeleid was.

“Dit is maatskappye soos Sedgars/Sedtrade, E’tsho, C-Squared, en ander, wat die monopolie as ’n klein groep maatskappye oor groot kontrakte gehad het.”

Jankielsohn sê Magashule het die ANC se strukture en takke in die Vrystaat misbruik om homself en mense in sy faksie te bevorder.

Inligting wat ’n ondersteunersgroep in die Magashule-faksie rondstuur, wat later as vals nuus afgemaak is. Hiervolgens gaan Ace Magashule in 2022 die ANC-president word. Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie, die voorsitter van die ANC, Zandile Gumede, voormalige uitvoerende burgemeester van die eThekweni-munisipaliteit (Durban), sal die adjunk-president en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, sal die sekretaris-generaal word. ANC-lede sê daar is ook ander ondersteuningsgroepe in die Magashule-faksie wat wenslysies rondstuur, waarop die foto’s bietjie anders lyk, maar Magashule bly ook hul keuse vir president. Foto: Verskaf
Meer oor:  Ace Magashule  |  Roy Jankielsohn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.