Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘SA se invloed oorsee het getaan onder Zuma’
Aziz Pahad, voorsitter van die paneel wat Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, adviseer .Foto: Argief

Daar was onder die bewind van oudpres. Jacob Zuma soveel binnegevegte in die Suid-Afrikaanse politiek dat dit die land se invloed in die internasionale politieke sfeer negatief beïnvloed het.

So het die hersieningspaneel van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) in ’n ondersoek bevind.

Dié paneel, wat verlede jaar in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa saamgestel is om Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, te adviseer, is gelei deur Aziz Pahad, ’n voormalige adjunkminister van buitelandse sake.

Die paneellede sluit verskeie oudambassadeurs in, onder andere Lindiwe Mazibuku, voormalige Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Londen.

Die paneel sê in sy verslag wat hy Woensdag in Pretoria aan Sisulu oorhandig het, daar is ’n verband tussen Suid-Afrika se verminderde invloed in die buiteland en die “negatiewe neigings” in die land se nasionale politiek.

Die paneel het onder meer huidige verwikkelinge in onder meer die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-Unie en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in ag geneem.

“By tye was ons (Suid-Afrika) so intern gefokus dat ons die groter prentjie wat die land se demokratiese transformasie aangevuur het uit die oog verloor het,” sê die paneel.

Nodeloos om te sê, Suid-Afrika se invloed sal altyd afhang van sy nasionale hernuwingsproses
Paneel

“Nodeloos om te sê, Suid-Afrika se invloed sal altyd afhang van sy nasionale hernuwingsproses.”

Die doel van die paneel was om die sterk en swak punte van die weg wat Suid-Afrika met sy buitelandse beleid inslaan, onder die loep te neem.

Daar is ook van hom verwag om Sisulu indien nodig dienooreenkomstig te adviseer oor hoe Suid-Afrika ’n rol kan speel om van die wêreld ’n beter en veiliger plek te maak, en te help om die Afrika-agenda te bevorder.

“Suksesvolle Suid-Afrikaanse beleid is een wat diep gewortel is in die land se Grondwet en nasionale prioriteite.

“Dit vereis ’n kritiese en analitiese begrip van Suid-Afrika se rol en plek in streek- en internasionale sake, tendense oor die wêreld heen, en die aanwesige magsbalans.

“Dit hang ook af van die doeltreffende inwerkingstelling daarvan,” sê die paneel.

Oudambassadeur Gert Grobler sê die paneel is aangestel nadat Ramaphosa verlede jaar by Zuma oorgeneem het.

Ramaphosa wil volgens Grobler hê Dirco moet sy aanslag hernu “om ons buitelandse beleid te herkalibreer en groter balans te gee in die veranderende wêreld waarin ons lewe”.

Grobler sê dit is verblydend dat daar gepoog gaan word om Suid-Afrika se “morele kompas” ook op buitelandse gebied te herstel en die land se aansien in die buiteland te herstel.

“Afrika bly uiteraard ons hoogste prioriteit en dit kan ook verwag word dat die kwessie van menseregte ’n belangrike rol sal speel in ons beleidsbepaling.

“Dit is ’n belangrike aspek wat die afgelope paar jaar effe uitgerafel het.”

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.