Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA se munisipale verkiesing op dié dag gehou

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging van die datum vir vanjaar se munisipale verkiesing bring meer sekerheid vir kiesers en politieke partye, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

“Partye kan nou behoorlik beplan en voorberei vir die verkiesing,” het Groenewald Woensdagaand gesê toe hy Ramaphosa se aankondiging verwelkom het dat die sesde munisipale verkiesing in ’n demokratiese Suid-Afrika op 27 Oktober sal plaasvind.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. Foto: Gallo Images

Groenewald het ’n beroep op kiesers gedoen om te registreer vir die verkiesing en om “seker te maak hulle is by hul huidige woonadres (op die kiesersrol) geregistreer”.

John Steenhuisen, DA-leier, het ook Ramaphosa se aankondiging verwelkom.

“Vrye, regverdige en gereelde verkiesings is die hoeksteen van ons grondwetlike demokrasie en die DA is verheug dat Suid-Afrikaners later vanjaar die geleentheid sal kry om hul duur verworwe stemreg te kan uitoefen.

“Niks is meer belangrik vir ons nasie as die vryheid om te kan stem nie, veral wanneer Suid-Afrika meer as ’n jaar onder die strafste en langste staat van inperking in die wêreld deurgebring het terwyl die regering misluk het om behoorlik op die koronaviruspandemie te reageer.”

John Steenhuisen, leier van die DA. Foto: Gallo Images

Steenhuisen sê die feit dat die regering die instelling van ’n omvattende en doeltreffende inentingsprogram in Suid-Afrika “heeltemal opgemors” het, bied aan kiesers die ideale geleentheid om te gaan stem. Inentings is die enigste manier uit die verwoestende inperking, sê hy.

“Dit is hoogtyd vir Suid-Afrikaners om die mislukkende (plaaslike) ANC-regerings af te dank.

“Suid-Afrika staan by die afgrond van ekonomiese ondergang met die hoogste werkloosheidsvlak in die wêreld, diepgesetelde regeringskorrupsie sonder aanspreeklikheid en absolute beleidsonsekerheid. Dit is hierdie vakuum van leierskap, deursigtigheid en integriteit wat die DA gereed is om te vul, sê Steenhuisen.

Intussen het Bantu Holomisa, UDM-leier, Woensdagaand in reaksie op Ramaphosa se aankondiging op sy Twitterblad geskryf “die OVK het politieke partye egter môre (Donderdag) genooi waar hulle ons sal vra of die verkiesing vanjaar gehou moet word gegewe die Covid-19(-pandemie). Oneerlik is die woord van die OVK”.

Netwerk24 het op goeie gesag verneem dat politieke partye wel Donderdag met die OVK sal vergader in verband met die munisipale verkiesing.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Volgens Ramaphosa sal dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as minister van samewerkende regering en tradisionele sake die nodige regstappe doen om die datum te laat proklameer.

Ramaphosa het alle stemgeregtigdes, veral dié wat vir die eerste keer sal stem, versoek om te verseker dat hulle geregistreer is om aan die verkiesing deel te neem.

Sy aankondiging het gekom kort nadat Ramaphosa en sy kabinet Woensdag hul eerste fisieke kabinetsvergadering midde-in die Covid-19-pandemie gehou het. Die besluite van die kabinetsvergadering word Donderdag deur Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, bekend gemaak.

Intussen het Kate Bapela, OVK-woordvoerder, kort voor Ramaphosa se aankondiging Woensdagaand ook gesê die kommissie is intussen druk besig met sy voorbereidings vir die verkiesing.

Die OVK se gereedheid om die munisipale verkiesing midde-in die Covid-19-pandemie te hou is sedert die uitbreek van die pandemie verlede jaar al verskeie kere in landwye tussenverkiesings getoets.

Woensdag het derduisende stemgeregtigde Suid-Afrikaners in nog 15 tussenverkiesings onder streng Covid-19-gesondheidsmaatreëls by stemlokale in die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Noord-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes gaan stem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.