Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA soldate in Mosambiek kos land byna R1 mjd.

Suid-Afrika se belastingbetalers sal bykans R1 miljard moet opdok om die 1 495 soldate te onderhou wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs as deel van ’n snel-vredesmag in Mosambiek ontplooi het.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

Ramaphosa het dié bedrag op 23 Julie in ’n amptelike brief aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, bevestig. Die brief is Woensdag amptelik as ’n parlementêre dokument uitgereik.

Soos wat die Grondwet vereis, het Ramaphosa die parlement in die brief ingelig dat hy die ontplooiing van die 1 495 soldate as deel van ’n internasionale verpligting van die land teenoor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) goedgekeur het.

Dit is daarop gemik om Mosambiek te help om die “terreurdade en gewelddadige ekstremiste in die Cabo Delgado-provinsie te help beveg”.

Die soldate is van 15 Julie tot 15 Oktober daar ontplooi.

“Die uitgawes wat na verwagting vir hierdie ontplooiing aangegaan sal word, beloop R984 368 057.”

Dinsdag is berig dat die Suid-Afrikaanse weermag aangekondig het dat die soldate as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se snel-ontplooiingsmag reeds sedert verlede week daar ontplooi is om terrorisme en ekstremistiese geweld in die provinsie te beveg.

Verlede week is berig dat Suid-Afrikaanse soldate, vermoedelik lede van die spesiale magte (recces), reeds toe al in die hawedorp Palma in die geweldgeteisterde Cabo Delgado aangekom het.

Die uitgawes wat na verwagting vir hierdie ontplooiing aangegaan sal word, beloop R984 368 057.

Die provinsie was vroeër vanjaar veral in die nuus nadat Moslem-militante ’n moordtog daar uitgevoer en gasbeleggings van internasionale maatskappye bedreig het.

Die Mosambiekse ontplooiing van die soldate is die tweede wat Ramaphosa die afgelope maand goedgekeur het.

Die parlement het op 16 Julie in ’n verklaring gesê dat hy ook ’n brief van Ramaphosa ontvang het waarin hy die ontplooiing van 25 000 soldate goedgekeur het om saam met die polisie reg en orde in die onluste en plundering van voorverlede week in Gauteng en KwaZulu-Natal te handhaaf.

Daardie ontplooiing is van 12 Julie tot 12 Augustus vanjaar van krag.

Dit sal die belastingbetalers na verwagting sowat R615 miljoen kos.

Die onluste en plundering het tot die dood van meer as 200 mense en miljarde rande se verwoesting gelei. Dit het uitgebreek kort nadat oudpres. Jacob Zuma begin het om tronkstraf van 15 maande weens minagting van die hof uit te dien.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het vroeër in ’n verklaring sy party se “ernstige kommer” oor die Mosambiekse ontplooiing uitgespreek, veral wat die finansiering en gebruik van hulpbronne betref.

Meer oor:  Saog  |  Thandi Modise  |  Cyril Ramaphosa  |  Koste  |  Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.