Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA veg teen 4 pandemies, sê Cyril

Suid-Afrika het tans drie ander pandemies wat alle landsburgers terselfdertyd met dieselfde durf en ywer waarmee hulle die Covid-19-pandemie help beveg het, moet uitroei, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa het Vrydagaand die ANC se aanlyn nasionale mans-gesprek teen geslagsgeweld en moorde op vroue toegespreek.

Hy het tydens die bespreking namens alle mans in Suid-Afrika ook verskoning aan alle vroue en kinders en hul naasbestaandes gevra wat slagoffers van geslagsgeweld en moorde was.

Ramaphosa het daartydens ook verskoning gevra aan Carmen van Wyk, die ma van die agtjarige Tazne van Wyk van Elsiesrivier, Kaapstad, wat in Februarie vanjaar vermoor is, omdat hy nog nie ’n belofte nagekom het om vir hulle ’n huis te bou om hul lewensomstandighede te verbeter nie. Ramaphosa het Van Wyk se ma belowe dat sy kantoor dit nou dringend sal doen.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Argief

Die bespreking onder die tema “Mans as vennote, generasie gelykheid” is ’n inisiatief van die ANC in samewerking met die burgerlike samelewing waarmee hulle ’n beroep op alle mans doen om met konkrete optrede deel van die stryd teen geslagsgeweld te word.

Dit is ook ter ere van die ontslape ANC-LP adv. Hishaam Mohamed gehou, wat op 24 Augustus vanjaar dood is.

Volgens Ramaphosa lei alle Suid-Afrikaners weens die pandemie van geslagsgeweld.

“En hierdie lyding moet tot konkrete optrede lei. Ons is almal hier betrokke by ’n nasionale veldtog. Laat ons almal dit omarm.”

Ramaphosa sê hy sê dikwels aan sy kabinetskollegas dat wat die regering teen die Covid-19-pandemie gedoen het, nalatenskappe moet nalaat.

“Ons het lewens gered met die koronavirus-pandemie.

“Ons moet toesien dat dieselfde effektiewe stappe wat ons daarteen ingespan het, nou ook teen die pandemies van geslagsgeweld en korrupsie ingespan word.

“Die ander pandemie wat ons met dieselfde ywer moet beveg, is die ekonomiese pandemie van armoede, ongelykheid en werkloosheid.

“Ons beveg nou al vier hierdie pandemies op dieselfde tyd. En ek wil ons nasie lei om al hierdie pandemies te beveg. Laat ons saamstaan om hierdie oorloë te oorkom.”

Volgens hom moet vroue en kinders landwyd veilig voel en moet alle mans opstaan en geslagsgeweld help beveg.

“Die enigste manier hoe ons geslagsgeweld kan oorwin, is wanneer mans verantwoordelikheid neem en dit help beveg.

“Dit is omdat dit ons as mans is wat ons vroue en kinders mishandel, verkrag en vermoor met die toksiese mag wat ons het. Ons moet dit saam met vroue beveg.”

Volgens Ramaphosa het sy regering verlede jaar R1,6 miljard bewillig vir die stryd teen geslagsgeweld en sal meer geld daarvoor beskikbaar stel. “Baie meer moet egter nog in die stryd teen geslagsgeweld gedoen word,” het hy bygevoeg.

Bheki Cele, minister van polisie, het tydens die bespreking gesê vroue moet vrylik in Suid-Afrika leef.

“Die idee dat mans hulle moet beskerm, skep die idee dat mans vroue besit en dat hulle ons troeteldiere is. Dit is nie hoe dit moet wees nie.

“My droom is nog altyd dat vroue in die middel van die nag in ons strate kan stap sonder om te vrees dat hulle deur mans vermoor, verkrag of aangerand sal word.”

Hy het gemeenskappe versoek om geslagsgeweld saam met die polisie te beveg.

Meer oor:  Gendergeweld  |  Geslagsgeweld  |  Cyril Ramaphosa  |  Pandemie  |  Coronavirus  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.