Die Suid-Afrikaanse regering het die moord op die Iranese kernwetenskaplike Mohsen Fakhrizadeh veroordeel en ’n beroep om kalmte in die Midde-Ooste gedoen.
Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Saterdag in ’n verklaring die vermeende sluipmoordaanval die vorige dag ten sterkste veroordeel en daarop gewys dat dit die tweede prominente Iranese burger is wat vanjaar op dié wyse dood is.
Sy het benadruk dat die geteikende moord op mense in Iran nie tot vrede gaan lei nie, maar die onstabiliteit in die streek vererger.

Mohsen Fakhrizadeh Foto: West Asia News Agency via Reuters
“Moorde van dié aard het ’n destabiliserende uitwerking en dié wat dit uitvoer moet voor die gereg gebring word.”

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Daily Sun
Pandor sê die “selfbeheersing” van Iran se regering word geprys “ondanks die voortgesette onregverdige teikening en inmenging van buite in die land se sake”.
Sy het herhaal Suid-Afrika is verbind tot vrede en veiligheid in die Midde-Ooste in nakoming van die VN se handves.
Verder het sy ’n beroep op alle lande gedoen om saam te werk om langdurige vrede “deur gesprek eerder as konfrontasie” te bewerkstellig en gesê Suid-Afrika staan gereed om te help.
Fakhrizadeh is in die hospitaal dood nadat gewapende sluipmoordenaars naby Teheran op sy motor losgebrand het, het die Iranse staatsmedia berig.
Senior staatslui in Iran het die skuld vir die sluipmoord op Israel gepak, hoewel niemand teen Vrydag verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het nie.