Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA vorder ongeag probleme, sê Cyril

Ongeag die enorme probleme wat Suid-Afrika ervaar, vorder die land, sê pres. Cyril Rampahosa.

“Ons kruip nie weg vir ons probleme nie. Ons erken en konfronteer dit en vestig sodoende ’n stewige basis vir groei,” het Ramaphosa Donderdagmiddag onder luide applous gesê toe hy sy repliek ná twee dae van robuuste debatvoering oor sy staatsrede in die parlement gelewer het.

Ramaphosa is egter die hardste toegejuig toe hy gesê het daar kan nie oor die debat gepraat word sonder om die “skandelike” en “beuselagtige” verpolitisering van die nasionale krisis van geslagsgeweld daartydens te erken nie.

“Ons skuld die mense van Suid-Afrika ’n verskoning vir wat in hierdie debat gebeur het.”

Hy het dit ook onomwonde gestel dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Dit kom ná die onlangse herrie nadat oudpres. FW de Klerk gesê het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie. Die FW de Klerk-stigting het later hiervoor om verskoning gevra.

Ramaphosa het ook hartroerend om verskoning gevra aan Julius Malema, EFF-leier, oor aantygings van die ANC-LP Boy Mamabolo dat Malema sy vrou, Mantoa, aanrand.

Volgens hom was dit ongevraag, onbehoorlik en nie reg nie. “My hart gaan uit na Mantoa en jou gesin.”

Ek is ’n pa van dogters en ’n oupa van kleindogters, ek is ’n eggenoot, die broer van ’n suster, 50% van die mense in die kabinet is vroue, die meerderheid Suid-Afrikaners is vroue.
Cyril Ramaphosa

Nadat Malema dié bewering Dinsdag in sy spreukbeurt in die debat ontken het, het hy egter ook vir Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy sy tweede vrou, wyle Nomazizi Mtshotshisa, aangerand het.

Ramaphosa het Woensdag hierop gesê Malema het al in 2017 beweer hy (Ramaphosa) het sy eerste vrou, Hope, aangerand. Sy het dit self ontken.

Volgens Ramaphosa is Mtshoshisa egter “nie hier om haar saak te stel nie”.

“Ek is ’n pa van dogters en ’n oupa van kleindogters, ek is ’n eggenoot, die broer van ’n suster, 50% van die mense in die kabinet is vroue, die meerderheid Suid-Afrikaners is vroue.

“Dit is hierdie mense wat ons moet dien, ons moet geslagsgeweld in ons leeftyd beëindig, en respek hê vir mekaar en vir die vroue van ons land, en ons moet dit doen met groot sensitiwiteit.

“Alle mans moet teen geslagsgeweld opstaan.”

Malema, wat saam met sy EFF-LP’s die staatsrede verlede Donderdagaand in ’n chaos gedompel het deur onder meer te eis dat De Klerk daardie sitting moes verlaat, is Woensdagmiddag deur veral ANC-LP’s kortgeknip toe hy op Ramaphosa se repliek wou reageer.

Julius Malema gaap tydens die repliek.Foto: ADRIAN DE KOCK

Oor apartheid het Ramaphosa gesê dit “grens aan hoogverraad om apartheid se impak op elke lewende Suid-Afrikaner te ontken”.

Volgens hom het die debat ook gewys hoe verdeeld die land nog is.

Hy het ook aangehaal uit die aanhef tot die Grondwet – dat Suid-Afrika aan almal behoort wat in die land woon – en bygevoeg dat dit moet help om die verdeeldheid van die verlede te genees.

“Apartheid was inherent ’n misdaad teen die mensdom.”

Ramaphosa het gesê die ingrypings wat hy in sy staatsrede aangekondig het, skep ’n platform vir volgehoue en inklusiewe ekonomiese groei. Hy het bygevoeg dat sy administrasie vasbeslote is om ekonomiese hervorming deur te voer. “Ons weier om roekeloos te wees,” het hy gesê.

Malema het in reaksie op die repliek gesê Ramaphosa moes in die debat oor die staatsrede al iets gesê het toe Mamabolo die beskuldigings vir die eerste keer gemaak het.

Volgens Malema het Ramaphosa en ander kritici “net begin omgee toe ek oor Nomazizi begin praat het. Ek aanvaar nie sulke onsin nie.”

Malema en sy vrou dagvaar albei vir Mamabolo vir R1 miljoen elk weens laster.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het gesê hoewel Ramaphosa in sy repliek goed gevaar het wat geslagsgeweld betref, het hy weer nie met “konkrete en werkbare oplossings” vorendag gekom oor hoe sy administrasie Suid-Afrika van “ ’n lae groei, hoë skuld-trajek met massiewe werkloosheid op ’n nuwe pad gaan kry nie”.

Meer oor:  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Verskoning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.