Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SA wil missiele aan Iran verkoop
Die Suid-Afrikaanse Umkhonto-missiel. Foto: Denel Dynamics

Suid-Afrika het by die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies aansoek gedoen vir magtiging om meer as R1,5 miljard se missiele aan Iran te verskaf.

Die plan van die departement van verdediging om aan sy Iranse eweknie wapens te verskaf, is deur die Suid-Afrikaanse nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee (NCACC) gestuit totdat dié magtiging verkry is.

Sou die Veiligheidsraad die aansoek goedkeur, sal dit Denel Dynamics se grootste buitelandse bestelling ooit vir Umkhonto-grond-tot-lugmissiele wees.

Dit sal op sy beurt ook groot verligting bring vir Denel, wat die afgelope jaar deur afleggings, kontrakkansellasies en ander geldelike probleme moes wroeg.

Die moontlike verskaffing van missiele aan Iran het na verneem word verskeie van die permanente lede van die Verenigde Nasies ietwat warm onder die kraag – veral nadat daar in die aanvanklike aansoek blykbaar verkeerde spesifikasies vir die soort missiel en die reikafstand daarvan verskaf is.

Die Veiligheidsraad het daarna vir meer gedetailleerde spesifikasies gevra voordat dit oorweeg kan word.

Plofkop: 23 kg, Reikafstand: 20 km

Iran was tot in 2015 op die VN se lys van lande aan wie geen wapens verskaf mag word nie – hoofsaaklik as gevolg van die bedreiging wat Iran se kernwapenprogram ingehou het. Nadat Iran ingestem het dat die Internasionale Atoomenergieagentskap se inspekteurs toegang tot sy program kry, het die Veiligheidsraad op 20 Julie 2015 Resolusie 2231 aanvaar waarvolgens van die sanksies opgehef word.

Die verskaffing van missieltegnologie, sowel as komponente vir die kernbedryf, is egter steeds onderworpe aan die goedkeuring van die VN se sanksiekomitee.

Buitelandse diplomatieke bronne het die afgelope week aan Rapport bevestig dat daar ’n “mate van ongemak is” met Suid-Afrika se voorneme om dié tegnologie en missiele spesifiek aan Iran te verskaf. Lande soos Rusland is teen wapenhandel met Iran gekant, terwyl van die ander permanente lede reken sodanige “wapenvriendskap” tussen Suid-Afrika en Iran kan toekomstige bilaterale betrekkings met dié lede strem.

Die aanvanklike deurmekaarspul oor presies watter soort missiele Suid-Afrika van voorneme is om aan Iran te verskaf, het dié ongemak vererger.

Jeff Radebe, minister in die presidensie en voorsitter van die NCACC, het in ’n breedvoerige antwoord op Rapport se navraag oor die aansoek beklemtoon dat daar tot op hede geen kontrak tussen die twee lande is vir die verskaffing van missiele of enige ander wapentegnologie nie. Daar is wel memorandums van verstandhouding oor toekomstige samewerking op ekonomiese en militêre gebied.

“Daar is ’n aansoek (voor die Veiligheidsraad en die NCACC) om sekere wapens te verskaf.

“Alle aansoeke wat die NCACC ontvang wat die magtiging van die Veiligheidsraad vereis, word deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking hanteer. Die­-selfde proses word vir alle lande en nie net Iran nie, gevolg. Enige land – Iran inkluis – het die reg om wapens te bekom vir die verdediging van die land se inwoners en sy grondgebied.

“Iran mag dus in die uitoefening van dié reg wapens van enige land af en van ’n verskeidenheid van verskaffers probeer bekom.

“Grond-tot-lug-missiele word as sodanige wapenuitrusting in die verdediging van die land beskou.

“In ’n geval soos dié sal die NCACC slegs die verskaffing deur Suid-Afrika aan ’n verteenwoordiger van die ander land se regering goedkeur in ooreenstemming met internasionale verdrae.”

Die Umkhonto-missiel is in Suid-Afrika vir gebruik deur die leër ontwikkel en word tans op die vloot se nuwe fregatte gebruik. Die missiel het ’n plofkop van 23 kg, ’n reikafstand van 20 km en word beskryf as ’n wapen met ’n “hoë sterfte”-vermoë.

Iran, wat ’n bondgenoot van Sirië is, was vroeg in Februarie vanjaar in die nuus omdat hy sy eie ballistiese missieltoetse uitgevoer het, maar die Iranese regering het ontken dat dit strydig was met die VN-beperkings. Die regering het ook gesê die toetse is in pas met sy eie “planne” en dat die buiteland sy neus daaruit moet hou.

Die toetse het egter genoeg konsternasie veroorsaak dat die Verenigde Nasies ’n blitsvergadering belê het om dit te bespreek.

Meer oor:  Sanw  |  Verenigde Nasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.