Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Saak teen Gumede wys NVG begin herstel – ontleder

Die hoëprofiel-vervolging van Zandile Gumede, uitvoerende burgemeester van die eThekweni-metro (Durban), en ander weens bedrog en korrupsie, is ’n positiewe gevolg van hoe die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ná jare se verval en staatskaping homself begin reinig.

Zandile GumedeFoto: Daily Sun

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het dit Dinsdag gesê kort nadat Gumede en Mondli Mthembu, ’n senior ANC-raadslid, en Craig Ponnan, ’n sakeman, in die gespesialiseerde handelshof in Durban verskyn en elk op borgtog van R50 000 vrygelaat is.

Die drie het hulle volgens brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale Valke-woordvoerder, vroeg Dinsdagoggend aan die Valke oorgegee en is aangekla van bedrog, korrupsie en die oortreding van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca), sowel as die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies.

Mulaudzi het in ’n verklaring gesê nege ander verdagtes het hulle twee weke gelede ook oorgegee weens dieselfde beweringe van bedrog en korrupsie wat verband hou met ’n Durban Solid Waste-tender van R208 miljoen in 2016 waar diensverskaffers na bewering groot bedrae geld betaal is sonder dat enige dienste gelewer is.

Dié nege is ook op borgtog van R50 000 elk vrygelaat.

Gumede-hulle sal saam met die nege weer op 8 Augustus in die hof verskyn.

News24 het ook berig hoe almal, Gumede se ondersteuners en die media, Dinsdag van die hofterrein weggejaag is nadat ’n gestamp en gestoot uitgebreek het soos Gumede se ondersteuners haar teen fotograwe met handsakke en baadjies wou beskerm. Joernaliste is ook met geweld gedreig.

Gumede is ’n stoere ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma en is die ANC-voorsitter in eThekwini, die ANC se grootste streek.

Op ’n vraag oor of haar hofverskyning deel kan wees van pres. Cyril Ramaphosa se beloofde optrede teen korrupsie in die regering, het Croucamp gesê dit kan eerder toegeskryf word aan adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, wat sedert haar aanstelling hard werk om die NVG se provinsiale strukture te versterk.

Dr. Nontsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, het saamgestem dat Gumede as senior ANC-leier se hofverskyning ' ’n slag vir die ANC is'.

“Dit is omdat die organisatoriese strukture van die NVG voor haar aankoms baie vervalle was. Die stelsel kan nou op haar versterkings begin reageer.”

Volgens Croucamp is dit deel van die NVG-reinigingsproses.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het vroeër ook getuienis aangehoor van hoe sekere elemente van die strafregstelsel – wat die polisie, Valke en NVG insluit – na bewering in die Zuma-era doelbewus vir eiebelang of politici se spesifieke agendas gekaap is.

Intussen het Bheki Ntuli, ANC-streeksekretaris in eThekwini, in reaksie op Gumede en die ander se inhegtenisnemings gesê hulle hoop die kwessie sal met die nodige respek en integriteit hanteer en spoedig opgelos word.

Mdu Nkosi, IVP-raadslid in eThekwini, het Dinsdag gesê sy party weet al ’n ruk van die ondersoek. “Ons is geskok, maar nie verras dat dit ’n paar dae na die verkiesing weer opgeduik het nie.

“Ons vermoed daar was politieke inmenging wat verseker het dat die ondersoek tot ná die verkiesing vertraag word om die ANC te beskerm van ’n politieke verleentheid wat hulle steun in die metro kon gekos het.”

Dr. Nontsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, het saamgestem dat Gumede as senior ANC-leier se hofverskyning “ ’n slag vir die ANC is. Veral nou met Ramaphosa wat so daarop hamer dat korrupsie en staatskaping uitgeroei moet word. Dit wys ook dat korrupsie sistemies in ANC-strukture is en nie net ’n gonswoord is nie.”

Meer oor:  Nvg  |  Zandile Gumede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.