Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sakeforum dreig glo amptenare met dood oor kontrakte

Noordwes se provinsiale regering het klagte van intimidasie by die polisie aanhangig gemaak teen lede van ’n sakeforum nadat hulle glo staatsamptenare se kantore binnegestorm en hulle met die dood gedreig het as tenders nie aan hulle toegeken word nie.

Vuyisele Ngesi, woordvoerder vir dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het in ’n verklaring gesê die klagte is ná die beweerde voorval verlede week by die Mmabatho-polisiekantoor ingedien.

Samuel Thobakgale, administrateur van Noordwes se departement van openbare werke en vervoer, terwyl hy klagte by die polisie indien. Hy is hier in gesprek met lede van die polisie.Foto: Verskaf

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig dat die administrateur en hoofdirekteur van die departement van openbare werke in Noordwes klagte van intimidasie aanhangig gemaak het. “Dit word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Volgens Ngesi kom die klagte nadat sowat 30 lede van die North West Business Forum, ’n private organisasie, Donderdag die kantore van Samuel Thobakgale, die administrateur, en sy ondersteunende personeel onwettig beset het. Thobakgale bestuur tans die departement van openbare werke en paaie, wat soos talle ander regeringsdepartemente in die provinsie onder administrasie is.

“Die lede van die forum het glo in die kantoor geëis dat tenders aan hulle toegestaan word en doodsdreigemente teen die administrateur, ’n direkteur en die ondersteunende personeel gemaak,” sê Ngesi. “Hulle het ook daarop aangedring om met Thobakgale te vergader.”

Die polisie is ontbied om die situasie te ontlont. Die groep het die gebou verlaat, maar glo gedreig dat hulle later sal terugkeer.

Thobakgale het gesê weens die erns van die dreigemente, na bewering onder meer dat hy doodgeskiet sal word, het hy besluit om dit by die polisie aan te meld.

Die lede van die groep het na bewering geëis dat kontrakte, veral vir padbouprojekte, onmiddellik aan hulle toegestaan word. Dit is egter ’n oortreding van die toepaslike verkrygingsprosedures, het Thobakgale gesê.

Lede van die forum het na bewering ook al voorheen departementele projekte en tender-inligtingsessies ontwrig, wat onder meer veroorsaak het dat dié projekte vertraag is. “Die groep se ontwrigting van die padbouprojekte stel padgebruikers se lewens in gevaar omdat daar nie tyd is om gepaste veiligheidsmaatreëls in te stel wanneer die kontrakteurs inderhaas die projekte (weens intimidasie) moet verlaat nie,” het Thobakgale gesê.

Volgens hom maak die departement egter goeie vordering met hierdie projekte in die provinsie, wat berug vir sy swak paaie is.

“Altesame 64 kontrakteurs uit die provinsie is aangestel. Ons adverteer ook nou vir die aanstelling van nog 150 kontrakteurs in die volgende drie jaar.”

Die huidige kontrakteurs is besig met herstelwerk aan departementele woonstelle en gesondheidsgeriewe, die aanbring van sanitasiefasiliteite by verskillende skole, asook herstelwerk aan paaie.

“Ek moedig alle plaaslike ondernemings aan om aan die geadverteerde tenderprosesse deel te neem,” het Thobakgale gesê.

’n Woordvoerder van die forum het nie Maandag haar selfoon beantwoord of op ’n SMS gereageer nie.

Meer oor:  Noordwes  |  Kontrakte  |  Amptenare  |  Doodsdreigemente  |  Sakeforum  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.