Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sakeman help Magashule glo graag met ‘skenkings’

Nadat ’n sakeman van Welkom, wat voorverlede jaar in ’n vermeende huurmoord doodgeskiet is, ’n kontrak van R255 miljoen in die Vrystaat losgeslaan het, het Ace Magashule se assistent gereeld daar vir “skenkings” van honderdduisende rande aangeklop.

Moroadi Cholota, voormalige assistent van Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voorheen premier van die Vrystaat, het Vrydag voor die Zondo-kommissie getuig daar was ’n lys met name van sakelui op ’n “databasis” in Magashule se kantoor. Sy het hulle gekontak wanneer die sogenaamde skenkings nodig was.

Die sakeman wat die meeste skenkings gegee het, was Igo Mpambani, wat op 20 Junie 2017 in Sandton in ’n vermeende huurmoord in sy Bentley van R3 miljoen doodgeskiet is. Vier mans het hom aangeval.

Ace MagashuleFoto: Argief

Vrydag het die kommissie gehoor dat Mpambani al te bereid was om te betaal wanneer Magashule se assistent hom om “skenkings” gevra het. Dit het ingesluit bedrae soos die R470 000 vir skootrekenaars aan studente wat in Kuba medies gaan studeer het.

Volgens Cholota het Mpambani belowe om die rekenaars te borg, daarom was dit nie ’n probleem om hom daarvoor te vra nie. Uiteindelik het hy teen sowat R300 000 altesaam 200 skootrekenaars vir studente gekoop.

Mpambani se naam is vroeër vanjaar in getuienis voor die kommissie genoem as die man wat R255 miljoen deur die Vrystaatse regering betaal is om huise met dakke van asbes te tel. Die projek, wat sowat tien weke geduur het (van Desember 2014 tot 15 Februarie 2015), was nie op tender uit nie en is beskryf as ’n vorm van geldwassery.

Mxolisi Dukwane, voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat, het in Augustus getuig Magashule was ’n “blesser” oftewel ’n Kersvader wat ander se geld gebruik het om skenkings vir mense te reël en hulle so te beïndruk. Dukwane het die asbes-projek as ’n vorm van geldwassery beskryf.

In ruil vir die kontrak van R255 miljoen moes Mpambani vermoedelik tot R82,6 miljoen aan omkoopgeld betaal.

In een geval is Mpambani op 28 Junie 2016 gevra om R250 000 aan ’n reisagentskap te betaal.

Cholota het Vrydag getuig sy het die versoek gestuur – “as daar versoeke was wat niks met die regering te doen het nie, sou Magashule private mense vra om dit te betaal”.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra of dit Cholota se getuienis is dat as ’n privaat persoon daarvoor gevra word, is dit nie vir die premier self nie, maar vir iemand anders. Dit is wel op versoek van die premier gedoen en sy (Cholota) sou namens die premier ’n private persoon vir ’n skenking vra.

Cholota het instemmend geantwoord.

* Die kommissie se sittings vir vanjaar is afgehandel. Die sittings sal op 13 Januarie 2020 hervat word.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.