Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAKP gaan teen ANC in Metsimaholo staan

Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) gaan oor twee weke die ANC in al 21 wyke in die Metsimaholo-verkiesing teenstaan pleks daarvan om as deel van die alliansie deel te neem.

Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, wat onlangs deur pres. Jacob Zuma as minister van hoër onderwys ontslaan is, het Sondag op die party se Rooi Oktober-saamtrek gedreig dat die party ook in die 2019-verkiesing teen die ANC kan staan.

Die beraad van die drieparty-alliansie het geen vrugte afgewerp nie en daar was geen gemoedsomkering by die ANC nie.

Die SAKP is sterk op pad na ’n betwiste verkiesing in Metsimaholo.

“Die SAKP is sterk op pad na ’n betwiste verkiesing in Metsimaholo. Dit is ’n beginselsaak en gemeenskappe het gevra dat die SAKP alleen aan die tussenverkiesing op 29 November deelneem.”

Phillip Kganyago, woordvoerder van die SAKP, sê dit sal die eerste keer sedert 1994 wees dat die SAKP nie as alliansievennoot aan ’n munisipale verkiesing in Suid-Afrika deelneem nie.

“Baie mense in die gemeenskap het gevra dat ons op ons eie aan die verkiesing in Metsimaholo deelneem.”

Hy sê ’n besluit is reeds in Julie vanjaar op hul nasionale kongres geneem dat die party op sy eie gaan staan.”

Intussen sê Mariette Pittaway, DA-kiesafdelingshoof van Metsimaholo en Mafube, dat die DA Metsimaholo graag vir hom wil vat.

Ons wil korrupsie stop, dienslewering verbeter en die inwoners ’n beter lewe gee.

“Ons wil korrupsie stop, dienslewering verbeter en die inwoners ’n beter lewe gee. Die DA wil graag ’n Vrystaatse munisipaliteit beheer sodat ons kan wys hoe lyk dienslewering waar ons regeer.

“Dit sal ook belangrik wees vir ons visie om in 2019 in Suid-Afrika te regeer.”

Pittaway sê daar is 21 wyke in Metsimaholo en die DA het 30 kandidate. Daar is sowat 79 000 kiesers.

“Die DA was ná die Augustus-verkiesing verlede jaar in beheer met ’n koalisieregering. Maar die MCA (Metsimaholo Community Association) het ons aan die ANC uitverkoop. Hulle het alle DA munisipale burgemeesterskomiteelede met ANC-raadslede vervang. Die setels in die munisipaliteit was toe 21 (ANC en MCA) teen 21 (DA, EFF en VF+), ’n ‘hang-raad’.

“Die ANC het toe ’n begroting probeer deurdruk waarby die gemeenskap nie sou baat nie. Die DA het geweier om dit goed te keur. Die Grondwet bepaal egter dat ’n munisipaliteit ontbind moet word as die begroting nie voor 30 Junie goedgekeur word nie.”

Sy sê sowat 15 politieke partye is tans besig met veldtogte.

Thabo Meeko, woordvoerder van die Vrystaatse ANC, sê die regerende party gaan ook in al 21 wyke staan.

“Dit is veral vir ons belangrik om te wen sodat ons met ons manifesto kan voortgaan. Ons wil probleme soos armoede en ongelykhede wegvee. En ons wil plaaslike ekonomiese ontwikkeling bevorder en werk skep.”

Meeko sê die feit dat die SAKP ook nou deelneem, is nie ’n strategiese stap vir die drieparty-alliansie om vorentoe te kan beweeg nie.

“Dit is ’n emosionele besluit en die ANC dring daarop aan dat verder hieroor gepraat word.”

Kgotso Morapela, leier van die EFF, sê dié party gaan ook kandidate in al 21 wyke beskikbaar stel.

“Ons hoop om Metsimaholo vir die EFF te wen. Dit gaan vir ons oor goeie dienslewering. Hier is ’n informele nedersetting wat nie eens elektrisiteit of water het nie.”

Wouter Wessels, onderleier van die VF+ in die Vrystaat, sê die VF+ neem ook in al 21 wyke in die Metsimaholo-verkiesing deel.

“Dit is vir ons belangrik om weer die ANC se mag te breek. Ons het in Augustus verlede jaar reggekry dat die ANC nie regeer nie en wil dit weer doen. Ons sal Metsimaholo graag in ’n koalisie met die ander partye wil regeer.

“Hier is ’n kans vir die VF+ om homself binne ’n veelpartyregering te vestig. Hoe sterker die VF+ is, hoe sterker magsbalans sal daar wees sodat ’n ander party nie maar net kan doen wat hy wil nie. Dit bied ook die kans dat die belastingbetaler effektief in die raad verteenwoordig kan word.”

Meer oor:  Blade Nzimade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.