Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAKP kap EFF oor aanvalle op Gordhan

Die SAKP het sy stem gevoeg by diegene wat die aanvalle op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, veroordeel het.

Die party het Sondag ná afloop van sy nasionale sentrale komiteevergadering die EFF gekap nadat die EFF te velde getrek het teen diegene wat korrupsie en plundery blootlê, insluitend joernaliste, Gordhan en Solly Mapaila, adjunkhoofsekretaris van die SAKP.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Dit kom nadat EFF die afgelope week buite die lokaal waar die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sit na spesifieke joernaliste verwys het wat glo vir Gordhan beskerm.

Die SAKP het in sy verklaring gesê die prosesse rondom die kommissie ontbloot die “ware aard” van die EFF. “Die EFF kom tot die verdediging van diegene wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verlam het. Hulle probeer om die Zondo-kommissie te ondermyn.

“Die SAKP sluit aan by die groot meerderheid mede-Suid-Afrikaners in die veroordeling van die uiters veragtelike rassistiese en chauvinistiese manier waarop die EFF sy desperate poging uitgevoer het om ons demokrasie te ondermyn om sy eie aktiwiteite toe te smeer.

“Die SAKP herbevestig sy beginselvaste ondersteuning vir kameraad Gordhan en ander wat te midde van die boeliegedrag toewyding getoon het tot die regverdige stryd teen staatskaping en ander vorme van korrupsie.”

Die party het daarop gewys dat Gordhan in sy onderskeie amptelike hoedanighede, onder meer as die SAID-kommissaris, ’n leidende rol gespeel het in die blootlegging van “massiewe plundery” wat in die Limpopo-regering plaasgevind het toe Julius Malema die leier van die ANC-jeugliga was. Die bevindinge van die openbare beskermer ten opsigte van Malema in haar “On the Point of Tenders”-verslag moet volgens die SAKP ook nie vergeet word nie.

“Geen wonder dat die EFF nou desperaat probeer om die pogings te ondermyn om die strafregstelsel skoon te maak nie,” lui die SAKP se verklaring.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het ook verlede week vir Gordhan verdedig en die EFF as boelies bestempel.

Die SAKP het ook weer berigte ontken dat dit enige skenkings van VBS Mutual Bank of sy aandeelhouer, Vele Investments, ontvang het.

Oor die alliansie het die SAKP gesê al die alliansievennote stem saam dat dit nie op die doeltreffendste manier funksioneer nie.

“Almal stem saam dat daar groot verandering moet wees. Die SAKP sal voortgaan om op ’n gestruktureerde manier met die ANC en ons ander alliansievennote, Cosatu en Sanco, in gesprek te tree met die oog op die hersamestelling van die alliansie. In ons gesprekke oor die 2019-verkiesing word die belangrikheid van ’n hersaamgestelde alliansieproses uitgelig.”

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, kon nie Sondag dadelik vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.