Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAKP se 1ste verkiesing sonder ANC

Die SAKP gaan deurdruk met sy besluit om oor drie weke kandidate in ’n tussenverkiesing te stel in al 21 wyke in die Metsimaholo-munisipaliteit in die Vrystaat – ondanks die teenkanting van sommige Cosatu-vakbonde.

Solly Mapaila

Dit sal die eerste keer wees dat die kommunisteparty, wat nog altyd die ANC gesteun het, onder sy eie naam aan verkiesings deelneem.

Zola Saphetha, algemene sekretaris van die vakbond Nehawu, het Donderdag aan Rapport gesê dié vakbond, asook Cosatu, het geen mandaat om die SAKP te steun nie. Die vakbond, die grootste in die staatsdiens, het reeds ’n resolusie aanvaar om die ANC in 2019 te steun, en kan nie nou van koers verander nie.

Tweedens het die SAKP nie vir Cosatu geraadpleeg nie, en is die kwessie ook nie in die vakbondfederasie bespreek nie.

Nehawu-lede in die Vrystaat is ook reeds aangesê om nie die SAKP te steun nie. Volgens Saphetha is daar ook sprake van ’n moontlike koalisie met die EFF, wat Nehawu ook nie steun nie.

Solly Mapaila, die SAKP se eerste adjunkhoofsekretaris, sê egter die SAKP gaan voort met sy planne en dat Cosatu in die provinsie die planne steun.

“Ons het reeds met ons veldtogte begin. Ons sal nog met Cosatu op nasionale vlak in gesprek tree.” Volgens hom wil die SAKP wys hy kan verkiesings op sy eie wen en goed bestuur. “Dit sal vir almal in die land wys hoe lyk ’n munisipaliteit wat deur kommuniste gelei word,” sê hy.

Mapaila sê die Metsimaholo-gemeenskap (in Sasolburg in die Noord-Vrystaat) het gevra dat die SAKP kandidate in al 21 vakante wyke stel, ’n stap wat hom die gramskap van die ANC op die hals gehaal het.

Die kwessie is op verlede week se politieke raadsvergadering tussen die ANC en sy

alliansievennote geopper nadat die ANC-bestuur in die Vrystaat enige lid wat met die SAKP saamwerk, met skorsing gedreig het.

Mapaila sê die verkiesing sal onder die vaandel van die SAKP geskied, maar ideaal gesproke sou hy ’n breë alliansie van linkse vennote wou hê. Daar is egter te min tyd om so ’n front te registreer. Die gemeenskap het groot respek vir die ANC as ’n handelsmerk, maar het ernstige bedenkinge oor die leierskap in dié gebied, en in die provinsie, sê hy.

Die SAKP, wat op sy jongste kongres besluit het om op sy eie aan verkiesings deel te neem, toets ook hiermee die water. Die party se ontevredenheid met die ANC is op ’n nuwe hoogtepunt nadat dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal, uit die kabinet geskop is.

Meer oor:  Solly Mapaila  |  Nehawu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.