Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAL, Eskom hoog op sakelys van Luthulihuis-vergadering

Die toekoms van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die regering se planne om strategiese vennote by Eskom en ander sukkelende staatsondernemings te betrek, sal Maandag van die belangrikste agendapunte wees wanneer die ANC en sy alliansievennote vergader.

Op die vergadering vroeër vandeesmaand was die trae ekonomie en die stand van die alliansie die belangrikste besprekingspunte.

Cosatu en die SAKP is lede van die alliansie.

Dakota Legoete, die ANC se nasionale woordvoerder, het Vrydag bevestig dat die vergadering gehou word, en wel in Luthuli-huis in Johannesburg.

Die ANC se subkomitee vir ekonomiese transformasie, wat Tito Mboweni, minister van finansies, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, insluit, sal aan die bespreking deelneem.

Legoete sê die ministers sal praat oor planne hoe om die SAL te red en watter soort strategiese vennote vir die sukkelende staatsondernemings nodig is.

Daar is ook bespiegeling dat pres. Cyril Ramaphosa sy kabinet gaan skommel.

’n Bron binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee het egter gesê dit is alles net gerugte.

“Hoe kan jy ’n kabinet binne net ses maande skommel? Hoekom sal jy?”

Die Mail & Guardian het berig daar is sprake van ’n skommeling en dat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, een van die ministers is wat moontlik haar pos gaan verloor. Dit is glo weens haar politieke ambisies.

Sizwe Pamla, Cosatu se nasionale woordvoerder, het gesê hulle lewer nie kommentaar op gerugte nie.

“Ons het vroeër ’n alliansievergadering gehad en dit was glad nie ter sprake nie. Die president het ’n oopdeurbeleid en tot op hede het hy nog nie ’n woord gerep nie.”

Alex Mashilo, nasionale woordvoerder van die SAKP, wou nie kommentaar lewer nie.

Dr. Piet Croucamp, ’n politieke ontleder, sê hy sien geen rede waarom die president binne minder as ses maande sy kabinet sal skommel nie. “Ek sal verbaas wees as dit gebeur.”

Nog ’n ontleder, Levy Ndoum, sê ook dit is te vroeg vir ’n kabinetskommeling.

Khusela Diko, woordvoerder van die president, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens (Sal)  |  Eskom  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.