Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAL kan belastingbetaler nóg R15 miljard kos

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan belastingbetalers in die komende paar jaar nóg R15 miljard kos, tensy die onbekende strategiese ekwiteitsvennoot waarvan die minister van openbare ondernemings praat, vinnig na vore kom en sy sak skud, sê kenners.

Dít sal die geval wees as die sakeredding, wat al op 5 Desember 2019 begin het, binnekort tot ’n einde kom en die SAL te min bedryfskapitaal het om sy verpligtings self na te kom. Die lugdiens het tot dusver in die huidige geldjaar R7,8 miljard gekry van die R10,5 miljard wat Tito Mboweni, minister van finansies, vroeër in sy begroting beloof het om dit van ondergang te red, het Louise Brugman, woordvoerder van die sakeredders, bevestig.

Mboweni het al herhaaldelik sy onwilligheid uitgespreek om die bankrot lugdiens verder te help en daar was ’n verwagting dat die R10,5 miljard die laaste hulp sou wees.

Die balans daarvan, wat na verwagting voor einde Maart oorbetaal sal word, is hoofsaaklik bedryfskapitaal om die “nuwe” SAL aan die gang te kry.

Alf Lees sê dit is uit die reddingsplan duidelik die SAL sal in die komende boekjaar beslis meer as R5 miljard van die belastingbetaler nodig hê, tensy Gordhan ’n vennoot met geld uit sy hoed trek.

Personeel wat baie ruim vrywillige skeidingspakkette aanvaar het, het die afgelope week hul tweede en finale betaling ontvang. Die sakeredders, Siviwe Dongwana en Les Matuson, is besig met die plasing van personeel op die nuwe struktuur en die aflegging van diegene wat nog in diens is en nie geplaas kan word nie.

Wanneer dít gedoen is, moet die sakeredders ’n meganisme daarstel om die oorblywende betalings aan krediteure te maak in die maande en jare wat kom. Daarna het hulle in wese die sakereddingsplan uitgevoer en kan hulle dit beëindig. Dít kan glo binne die volgende maand of twee gebeur. Die SAL se bestuur en direksie sal daarna weer beheer oor die lugdiens oorneem.

Die wetsbepalings wat maatskappye gedurende sakeredding ’n blaaskans van finansiële verpligtings gee, sal dan ook nie meer van toepassing wees nie. Dít gee sakeredders byvoorbeeld die mag om betalings van huur- en ander ooreenkomste tydelik op te skort totdat die reddingsplan uitgevoer is.

“Bedryfsuitgawes gaan voort” as die sakeredding beëindig is, sê Dawie van der Merwe, direkteur by BDO Business Restructuring.

Die bedryfskapitaal van sowat R2 miljard wat in die plan vir die “nuwe” SAL voorsien word, is volgens kenners heeltemal te min, veral te midde van die krisis waarin Covid-19 die lugvaartbedryf gedompel het en ’n derde vlaag wat tot die hernude sluiting van landsgrense kan lei.

Die SAL het al sy vlugte lankal opgeskort en die afgelope week opdraande gekry van die burgerlugvaartowerheid toe hy ’n vliegtuig Brussel toe wou stuur om entstof teen Covid-19 te gaan haal. Die owerheid het in ’n verklaring gesê voordat lugdienste vlugte mag hervat, moet hulle deeg­like instandhouding doen wat spesifieke prosedures kan insluit om vliegtuie van voor af vluggereed te kry.

Die SAL het wel later toestemming vir die vlug gekry, maar teen daardie tyd het ’n ander lugdiens die kosbare vrag reeds na Suid-Afrika gebring.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, vestig sy hoop op ’n strategiese ekwiteitsvennoot om ná die sakeredding die wa deur die drif te trek, maar dit is steeds nie duidelik wie dít sou wees en waarom hulle in ’n sukkelende mark in die SAL sal belangstel nie.

Alf Lees, DA-lid van die parlement se staande komitee vir openbare rekenings, sê hy glo nie vir een oomblik daar is werklik ’n vennoot wat gewillig en in staat is om mede-eienaar van die SAL te word nie. Gor­dhan en sy amptenare praat dalk met baie partye, maar as daar werklik ’n geloofwaardige aanbod is, “sou Gordhan dit al van die dakke af geskreeu het”.

Peter Attard Montalto, Intellidex se hoof van kapitaalmarkbeleggings, sê met ’n strategiese ekwiteitsvennoot is die kans vir verdere reddingsboeie waarvoor die belastingbetaler moet opdok in die volgende drie jaar skraal. “As daar egter nie ’n strategiese ekwiteitsvennoot is nie en geen besluit om vlugte te hervat nie, kan dit beteken die SAL gaan nog ’n reddingsboei van sowat R15 miljard nodig hê.”

Lees sê dit is uit die reddingsplan duidelik die SAL sal in die komende geldjaar beslis meer as R5 miljard van die belastingbetaler nodig hê, tensy Gordhan ’n vennoot met geld uit sy hoed uit trek.

Die vervoerekonoom dr. Joachim Vermooten bevraagteken planne om die sakeredding te beëindig alvorens die SAL op sy eie bene kan staan.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Pravin Gordhan  |  Alf Lees  |  Belasting  |  Lugdiens  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.