Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAL: Mboweni se duur bloedneus

Die bloedneus wat Tito Mboweni by die ANC se nasionale uitvoerende komitee oor sy SAL-plan gekry het, kan belastingbetalers duur te staan kom.

Mboweni het op die NUK se vergadering en lekgotla verlede naweek voorgestel dat die lugdiens gelikwideer word en ’n nuwe in sy plek gevestig word. In plaas daarvan is besluit die sukkelende redery moet geherstruktureer word. Die koste van dié proses kan na verneem word tot R10 miljard beloop.

Die mikpunt is om ’n winsgewende nuwe redery onder die SAL-handelsnaam te vestig.

Die regering het reeds R2 miljard vir die sakereddingsproses beloof. In die herstruktureringsproses sal ’n bykomende R8 miljard vir onder meer skeidingspakkette gebruik word.

‘Stryd gaan oor wat herstrukturering behels.’

Onmiddellike likwidasie kan egter volgens ’n bron in die regering se ekonomiese groepering R50 miljard kos.

Dit sal volgens Mboweni se kritici tot verdere afgradering van die land se kredietstatus lei.

Hulle meen ook dis belangrik om te voorkom dat uitleners hul geld van ander staatsinstellings terugeis, veral Eskom met sy R450 miljard-skuldlas.

Na verneem word, het Mboweni teen die einde van die bespreking boedel oorgegee. “Hy is verslaan,” het ’n teenwoordige gesê.

Volgens nog mense wat op die vergadering was, het die ANC-leierskorps die tesourie opdrag gegee om die R2 miljard spoedig aan die SAL te gee om die lugdiens in die lug te hou as deel van die sakereddingsproses.

’n Bron in die regering sê die beoogde nuwe lugdiens onder die SAL-handelsnaam sal steeds ’n nasionale redery wees wat op “doeltreffende, winsgewende streekroetes en baie minder buitelandse roetes” kan fokus.

Die sakereddingspraktisyns kyk ook noukeurig na wat Mango reg doen in hul poging om met ’n geskikte model vir die nuwe SAL vorendag te kom.

Ander opsies sluit in om SA Express, ’n filiaal van die SAL, by die nuwe lugdiens te integreer.

Nog ’n moontlikheid is om SAL Tegnies in te skakel by die werk wat Denel en ander openbare onderneming doen.

Dié opsie word volgens die bron beskou as van kritieke belang om grootskaalse werksverlies te keer.

“Die staat het ook party van die vaardighede by die SAL nodig.”

Mboweni het alle navrae na die departement van openbare ondernemings verwys, wat weer op hul beurt gesê het die ANC moet kommentaar lewer oor wat op die party se vergadering gebeur het.

Na verneem word, wou Mboweni aanvanklik nie die R2 miljard beskikbaar stel nie omdat daar soveel ander dringende basiese behoeftes in die land is.

Hy wou hê die SAL moet gelikwideer word en dat ’n nuwe lugdiens gevestig word met aandeelhouers soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, Openbare Beleggingskorporasie en selfs Ethiopian Airlines, sodat “pres. Cyril Ramaphosa nie politieke kapitaal verloor en die president word wat die SAL graf toe stuur nie”, aldus iemand wat op die vergadering was.

Ander wou hê die lugdiens moet gesluit word en Mango moet bemagtig word om sy bedrywighede oor te neem.

Maar die meerderheid het daarop aangedring dat die SAL ’n herstruktureringsproses ondergaan om sy laste te verlig, waarna nuwe aandeelhouers ingebring kan word.

Die NUK het die aard en inhoud van die herstruktureringsproses aan die sakeredders oorgelaat.

’n Bron in die tesourie sê as die redery gelikwideer word, sal alle kontrakte gekanselleer moet word en die bestuur opnuut saamgestel word.

“Nou gaan die stryd oor wat die herstrukturering behels, en of mense met gevestigde belange in die status quo magtig genoeg sal wees om ’n herstruktureringsproses te weerstaan wat die lugdiens kan red.

“As hulle magtig genoeg is, sal ons terug wees waar ons begin het.”

Daar is lankal kommer in die ANC dat ’n paar lede van die land se elite die SAL melk en munt slaan uit aanlopende kontrakte.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het Woensdag gesê die NUK het ooreengekom dat strategiese vennote by alle staatsondernemings betrek moet word.

Die party wil volgens hom ook hê ondersoek moet ingestel word na alle historiese kontrakte wat ’n negatiewe uitwerking het op die SAL, waaronder die huur van vliegtuie en aanlopende kontrakte.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.