Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAL-werkers ‘moes uiters persoonlike vrae beantwoord’
Nokunqoba Gloria Dlamini, ’n ondersoeker van die Staatsveiligheidsagentskap, getuig Woensdag voor die Zondo-kommissie.Foto: Skermgreep

’n Groep van 118 werknemers van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moes onder die valkoog van die destydse voorsitter van die direksie, Dudu Myeni, vrae beantwoord oor onder meer hul verhouding met hul skoonouers en of enige van hul gesinslede drankprobleme het.

Die werknemers het die swaard oor hul kop gehad dat hulle eers ’n lang rits uiters persoonlike vrae moes beantwoord en daarna ’n poligraaftoets moes ondergaan om te bepaal of hulle die waarheid praat.

Hulle is nie ingelig dat hulle kon weier om die poligraaftoetse te ondergaan nie en was onder die indruk dat dit verpligtend is.

Dié ondersoeke na die SAL-werknemers se agtergrond is deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) behartig, het ’n ondersoeker van die SVA, Nokunqoba Gloria Dlamini, Woensdag aan die Zondo-kommissie van ondersoek erken.

’n Brief wat op 13 Oktober 2015 deur David Mahlobo, oudminister van staatsveiligheid, onderteken en aan Nhlanhla Nene, destydse minister van finansies, gestuur is, bevestig dat die SVA die ondersoek gaan doen.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die kommissie wat Dlamini ondervra het, het daarop gewys dat die lys van werknemers wat ondersoek sou word aanvanklik net 13 name bevat het, maar dit het skielik gegroei tot 118.

Luidens inligting voor die kommissie, het Myeni inligting wat in die SVA-ondersoeke bekom is, in een geval gebruik om ’n persoon te probeer afdank weens haar dubbele burgerskap.

Hofmeyr het gesê van die vrae was uiters persoonlik.

Dit sluit in:

* Is alle kinders in jou gesin regverdig behandel toe hulle grootgeword het?

* Was enige van jou ouers, broers of susters al aan alkohol of dwelms verslaaf?

* Het enige van jou gesinslede psigiatriese behandeling ontvang?

* Indien jy jou lewe sou oorhê, sal jy weer trou met die persoon met wie jy getrou het?

* Hoe is jou ouers se verhouding?

* Kom jy oor die weg met jou skoonouers?

* Glo jy daarin om met net een persoon op ’n slag ’n verhouding te hê?

* Leen jy gereeld by vriende en familie geld en betaal jy dit terug?

Dlamini het hierop geantwoord ja, agtergrondondersoeke is persoonlik van aard.

Adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier van die Zondo-kommissie.Foto: Skermgreep

Die kommissie het Woensdag gehoor dat Dlamini spesiaal op 13 November 2016 Durban toe gevlieg het om met Myeni te vergader. Dlamini was die projekhoof van die spesiale ondersoek.

Dlamini het getuig dit was protokol en sy het dit gedoen om die plan van die SVA-ondersoek na die SAL-werkers aan Myeni voor te lê.

Hofmeyr het hierop gesê daar was die volgende dag ’n vergadering van die SAL-direksie in Midrand; dit was in elk geval die direksie wat oor die plan moes besluit en nie Myeni nie, en dat Dlamini die plan toe kon voorlê.

Hierop het Dlamini gesê sy het nie geweet daar sou die dag ná haar vergadering met Myeni ’n direksievergadering wees nie; sy het dit eers besef toe Myeni haar in Durban daarvan sê.

* Mnr. Y, ’n werknemer van die SVA, het Woensdagmiddag begin getuig oor hoe Myeni ook toegang gehad het tot ’n geheime parallelle spioenasie-eenheid in die SVA wat gestig is om spesiale geheime werk vir oudpres. Jacob Zuma te doen.

Myeni is deur die geheime eenheid beskerm, hoewel sy nie die regte kanale gevolg het om daarvoor aansoek te doen nie.

Mnr. Y het getuig daar is geen dokumente wat wys daar was ’n opdrag aan die SVA dat werk gedoen moet word vir Myeni nie, maar die hoëvlakpaneel wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is om die eenheid te ondersoek, het dié inligting uitgekrap.

Meer oor:  Staatskaping  |  Dudu Myeni  |  Sal  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.