SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
SAL-werkers moet ophou staak – Gordhan
Pravin GordhanFoto: Daily Sun

Alle belanghebbendes by die SAL moet besef as stakende werkers nie na hul werk terugkeer nie, plaas dit dié reeds sukkelende lugdiens in ’n swakker finansiële posisie, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Gordhan het joernaliste Donderdag by die parlement te woord gestaan kort nadat hy en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, LP’s in die ANC-koukus oor onder meer die land se geïntegreerde hulpbronplan, Eskom en die SAL-staking toegespreek het.

Gordhan en Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, het ná die vergadering ten sterkste ontken dat hy “gedagvaar” is om die koukus by te woon omdat daar glo ook vanuit ANC-geledere ontevredenheid is oor die wyse waarop hy die krisisse by die SAL en ander staatsentiteite hanteer.

Majodina het dit duidelik gemaak dat die koukus Gordhan uitgenooi het om LP’s in te lig oor die herstrukturing van SOE’s en veral hoe die SAL-krisis opgelos kan word.

Volgens Gordhan was die koukus “baie ondersteunend” teenoor hom.

Gordhan het dit ook duidelik gemaak dat SOE’s, soos die SAL, hul sake baie beter sal moet bestuur om “minder afhanklik van die staatskas te wees”.

Nadat hy Dinsdag met Numsa en Sacca, die vakbonde wat die voortslepende staking beheer, en die SAL-bestuur vergader het, het hy gesê die regering het nie meer geld om as reddingsboei aan SOE’s voor te skiet nie.

MKMVA trek kritiek oor nuwe Eskom-baas terug:

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het Donderdag vir Carl Niehaus, woordvoerder van die MK-vereniging vir militêre veterane (MKMVA), versoek om ’n verklaring terug te trek waarin die MKMVA vroeër Eskom en Pravin Gordhan se aanstelling van André de Ruyter as Eskom se nuwe uitvoerende hoof, sowel as die beweerde privatisering van SOE’s, erg gekritiseer het.

Die verklaring het onder meer gelui dat De Ruyter se aanstelling ’n “klap in die gesig” van bekwame swart uitvoerende hoofde is.

Niehaus sê hy is Donderdag ingelig dat die MKMVA ter wille van eenheid geen mediaverklarings mag uitreik totdat die NUK-proses om die strydende MKMVA en MK se nasionale raad, wat albei MK-veterane verteenwoordig, te verenig, afgehandel is nie.

Sy boodskap aan die ANC-koukus was dat die SAL se lewensvatbaarheid as lopende saak sal afhang van hoe die staking hanteer word.

“Geen lugdiens of onderneming waar die uitgawes hoër as die inkomste is, kan vir ewig oorleef nie. So iets sal moet ingee.

“Maar die vakbonde is vanoggend (Donderdag) sedert 10:00 weer in gesprek met die SAL-bestuur. Laat ons sien waarmee hulle vorendag kom. Ek wil nie hul besluite vooruit loop nie. Maar hoe gouer ons die lugdiens weer in die lug kry, hoe beter,” het Gordhan gesê.

Majodina het op haar beurt gesê Gordhan is deel van die koukus se lopende program om ministers te nooi om LP’s self oor sekere gebeure in hul spesifieke sektore in te lig.

“Die SAL en die hele SOE-sektor is nou in ’n program van herstruktuering. Ons het hom gevra terwyl hy ons oor die herstrukturering van SOE’s inlig, moet hy ook reflekteer oor wat by die SAL gebeur en hoe verseker sal word dat die lugdiens stabiliseer.

Volgens haar het die koukus saamgestem dat die huidige onderhandelinge met die bemiddelaar gerespekteer word.

“Die regering moet ook nou betrokke bly om te verseker dat die staking beëindig word ongeag die finansiële beperkinge en skade aan die SAL.

“Ons was dit ook eens dat die regering nie verder net blanko tjeks aan die SAL gee nie.

“Werkers, die regering en die SAL-bestuur het egter almal ’n verantwoordelikheid om die SAL uit sy huidige krisis te neem.”

Op ’n vraag of die ANC-koukus die privatisering van die SAL ondersteun of nie, het Majodina gesê daar moet met duidelike regrukplanne en -tye vir die lugdiens vorendag gekom word.

“Dit is ’n nasionale lugdiens en ons kan nie toelaat dat onbekendes in ons lugruim vlieg nie. Ons moet die SAL lewensvatbaar maak. Dit kan nie vir ewig op die regering staatmaak nie. Hulle is veronderstel om wins te maak. Die staking het ’n baie negatiewe uitwerking op die sukkelende SAL se finansies gehad. Ons verkies nie nou die privatisering van die SAL nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.