Die saak waarin oudpres. Jacob Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales van bedrog, korrupsie en geldwassery aangekla word, is Dinsdag weer op die hofrol.
Volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sal daar Dinsdag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, op ’n verhoordatum besluit word en sal die laaste voorverhoorbestuurskwessies uitgestryk word.
Die groot vraag is egter of Zuma Dinsdag wel in die beskuldigdebank sal verskyn.
Soos vroeër berig het Zuma Sondag gesê hy “twyfel of die staat ooit gereed sal wees om met hierdie verhoor te begin” en dat die saak waarskynlik tot 17 Mei uitgestel sal word.
Die NVG sê egter die aangeleentheid is tot Dinsdag uitgestel, hangende die hofaansoek wat Thales vroeër ingedien het om die rampokkerverwante-aanklagte teen hom te betwis.
Die saak teen Zuma en Thales sloer al jare. Hulle word van 16 klagtes van bedrog, korrupsie en geldwassery aangekla.
Dié aanklagte sluit in dat Zuma destyds na bewering sowat R500 000 per jaar deur Schabir Shaik, veroordeelde bedrieër en sy destydse finansiële adviseur, ontvang het om Thales SA in die destydse wapenskandaal te beskerm.
Intussen het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Maandag gevra dat Zuma twee jaar tronkstraf vir minagting van die hof moet ontvang.
Dit volg nadat Zuma ’n hofbevel van die konstitusionele hof verontagsaam het wat geëis het dat hy voor die kommissie verskyn.