Suid-Afrika het nie ’n opgeblase staatsdiens nie, maar eerder ’n opgeblase salarisrekening, sê Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie.

Senzo MchunuFoto: DAILY SUN
En Mchunu glo sterk dat dié salarisrekening drasties verminder moet word.
Hy het dít Woensdagmiddag tydens ’n mondelingse vrae- en-antwoordsessie in die parlement gesê in reaksie op vrae oor hoe dié enorme salarisrekening gesny gaan word.
Mchunu se antwoord kom nadat Tito Mboweni, minister van finansies, ook vroeër vanjaar in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê het dat as die staat sy teiken wil bereik om sy besteding met R21 miljard in die 2020-’21- en R29 miljard in die 2021-’22-boekjaar te verminder, moet bykomende maatreëls gevind word om R150 miljard oor die volgende drie jaar, oftewel R50 miljard jaarliks, te besnoei.
Mboweni het bygevoeg dat die drastiese vermindering van die salarisrekening daartoe moet bydra.
Dít omdat die vergoeding vir staatsamptenare in die 2018-’19-boekjaar 35,4% van die gekonsolideerde nasionale besteding uitgemaak het.
Mboweni het toe ook gesê dat sowat 29 000 top-staatsamptenare – president Cyril Ramaphosa en sy kabinet ingesluit – tans miljoenêrs is net vanweë die enorme jaarlikse salarisse wat elkeen van hulle verdien.
Mchunu het voorts gesê dat die regering behalwe om die reeds enorme salarisrekening te sny wel nog kritieke vakante poste in die staatsdiens moet vul.
Die grootte van die salarisrekening beteken nie outomaties dat dit weens die aantal staatsamptenare so hoog is nie.
Senzo Mchunu
“Ons moet egter die salarisrekening verminder. Die grootte van die salarisrekening beteken nie outomaties dat dit weens die aantal staatsamptenare so hoog is nie.”
Volgens hom is deeglike studies hieroor gedoen en verstaan die regering nou baie beter waarom dit so baie toegeneem het.
“Daarom is ons fokus nou op die vermindering van die salarisrekening en die redes hoekom dit so toegeneem het.”
Steve Swart, ACDP-LP, het dit aan Mchunu gestel dat dit algemene kennis is dat die regering se salarisrekening op die oomblik onvolhoubaar is. “Die nasionale tesourie het self aangedui dat die gemiddelde vergoeding in die staatsdiens hoër is as in die res van die ekonomie. Dít is kommerwekkend.”
Swart het gesê nuwe salarisonderhandelinge tussen die staat en vakbonde begin volgende jaar. Hy wou weet wat die regering gaan doen om te verhoed dat die verhoging nie weer hoër as inflasie gaan wees nie.
Volgens Mchunu het die regering besluit om nou al met georganiseerde arbeid op politieke en vakbondvlak in gesprek te tree.
“Ons staar baie moeilike kwessies in die gesig en moet konsensus bereik. Ons is by die punt waar die staat erge probleme ervaar. Ons moet oop en eerlik daaroor wees. Eers daarna kan ons met die syfers begin. Dit is hoe ons dit wil benader.”
Mchunu het bygevoeg dat die regering dié keer ook eerder op die toekoms wil fokus, want “die vorige twee ooreenkomste vir salarisse het baie hoër geëindig as wat ons kon bekostig. Ons moet dit hierdie keer vermy. Daarom is dit belangrik dat ons vroeg daarmee begin.”