Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Salga se versoek afgeskiet om waterskuld af te skryf

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en die nasionale tesourie het Woensdag vasgeskop teen die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) se voorstel dat die waterskuld van plaaslike owerhede “afgeskryf word” om te voorkom dat groot dele van die land oor twee weke sonder water is.

Luidens ’n verklaring van die departement van water en sanitasie kom die versoek van Salga nadat Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, Maandag gesê het haar departement gaan die grootmaatwater wat gelewer word aan plaaslike owerhede met die grootste waterskuld teen 8 Desember staak as hul skuld nie vereffen is nie.

Dit het betrekking op 30 plaaslike owerhede.

Volgens Mokonyane het plaaslike owerhede wat die afgelope 120 dae nie hul waterskuld betaal het nie, haar departement in skuld van R9 miljard gedompel.

Plaaslike owerhede het net minder as twee weke kans om dié skuld te vereffen, daarna gaan die krane toegedraai word, het sy gewaarsku.

Leon Basson, die DA se skaduminister van water en sanitasie, het intussen op Faceboek teen Mokonyane uitgevaar en gesê toegang tot water is “ ’n grondwetlike reg”.

Hy het Mokonyane gewaarsku as sy die krane na plaaslike owerhede toedraai, gaan die dorpe afbrand. “Dit is hoe die ANC die mense geleer het,” het hy geskryf.

Basson het Mokonyane uitgedaag om te waag om die waterpompe, wat aan plaaslike owerhede behoort, toe te draai. “Probeer dit en jy en jou amptenare sal vir betreding opgesluit word,” het Basson gesê.

Luidens die departement se verklaring het Mokonyane Woensdag die stand van munisipale waterskuld aan die portefeuljekomitee oor water en sanitasie voorgelê.

Sy het die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en Salga veroordeel omdat hulle nie die nodige ondersteuning aan die departement van water en sanitasie gee nie, terwyl laasgenoemde “agteroor gebuig het om plaaslike owerhede te ondersteun wanneer waterdienste in gemeenskappe tot stilstand gekom het”.

Mokonyane het ’n beroep op die parlement gedoen om noodbefondsing aan haar departement te heroorweeg. Sy het gesê haar departement het tot dusver geen terugbetalings ontvang vir uitgawes wat hy aangegaan het tydens die droogte van 2015 nie. Dit sluit ingryping in die Wes-Kaap in.

Volgens Mokonyane sal die departement voortaan geen noodondersteuning aan munisipaliteite kan verleen as wateronderbrekings skielik voorkom nie. Die departement se hande is afgekap omdat hy so diep in die skuld is, het sy gesê.

Noodplanne om die departement van water en sanitasie uit sy skuldkrisis te help en beter onderlinge samewerking te kry, sal nou onder leiding van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gemaak word. Terugvoering oor die “konkrete planne” moet op 24 Januarie aan die parlement voorgelê word.

Intussen sal die departement van water en sanitasie steeds voortgaan om grootmaatwater na 30 plaaslike owerhede af te skakel.

Meer oor:  Nasionale Tesourie  |  Waterskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.