Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Salim Essa ‘het soos man gelyk wat op straat bly’

Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, het “slordig geklee soos ’n man wat op straat bly” en met opsigtelike mag oor Anoj Singh probeer om ’n betaling van R80 miljoen van ’n Transnet-kontrakteur te kry in ruil vir die tender om die mangaanerts-spoorlyn tussen die Noord-Kaap en Port Elizabeth op te gradeer.

Essa het glo ongenooid opgedaag by ’n vergadering wat Henk Bester, ’n projekbestuurder van die maatskappy Hatch Goba, met Singh, toe finansiële bestuurder van Transnet, in 2013 by ’n restaurant in die Melrose Arch-winkelsentrum in Johannesburg gehad het.

Hatch Goba, wat verskeie projekte vir Transnet gedoen het, het gesukkel met die betaling van hul fakture en die maatskappy het besluit Bester moes probeer om met Singh hieroor te praat.

Dié vergadering was volgens Bester baie bisar.

Henk Bester, ’n projekbestuurder van die maatskappy Hatch Goba, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Bester het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig Hatch Goba het in daardie stadium die fase 1-studie gedoen vir die uitbreiding van die mangaanerts-spoorlyn na Port Elizabeth en ’n tender ingedien as deel van die oop tenderproses vir fase 2 van die projek, ’n mega-projek waarvoor ’n tenderaansoek met ’n waarde van R800 miljoen ingedien is.

Met fase 1 van die projek was daar glo reeds ’n poging van inmenging by Hatch Goba toe twee sakemanne, Dave Reddy en Nailan Padayachee, met Bester vergader het. Padayachee het in Julie 2013 gebel en gevra of Bester met hom kan vergader. Bester het glad nie geweet wie dit is nie, maar het ingestem. Reddy het ook by die vergadering opgedaag. Hulle het gesê daar is ’n versoek van Transnet dat hul maatskappye as vennote van Hatch Goba fase 1 van die projek moet doen.

“Hulle het gesê dat Nommer Een hulle gestuur het en dat hulle deel van die verskaffer-komponent moet word. Hulle het nie gesê wie Nommer Een was nie. Ek het Reddy gevra wie is Nommer Een en hy het gesê jy kan dit self uitwerk, jy weet wie Nommer Een is,” het Bester getuig. Dit was sy mening dat hulle “as gyselaar” gehou word.

Hatch Goba het uiteindelik geweier om enige ooreenkoms met die twee mans te onderteken.

Intussen het daar probleme ontstaan met Transnet wat nie meer Hatch Goba se fakture vir ander projekte betaal het nie en miljoene rande agterstallig was met betalings.

Volgens Bester het hy aan sy kollegas voorgestel dat hy op een of ander manier by Singh moet uitkom en hy het besluit om vir Reddy te bel, omdat Reddy in hul vergaderings Singh se naam baie genoem het.

“Hy het gesê geen probleem nie. Ek sal ’n vergadering vir jou reël. Binne ’n dag het hy gesê Singh sal met my vergader en gereël dat dit by ’n restaurant by Melrose Arch moet wees,” het Bester getuig.

Dit is op dié vergadering dat Essa onverwags ook by was en met Bester se aankoms by die restaurant na hom geloop en homself as Salim Essa voorgestel het. Essa het ’n ou denim aangehad en so sleg gelyk, dit het gelyk of hy op straat bly, het Bester getuig.

“Ek het gevra wie hy is. Hy het geantwoord hy is net iemand en is hier om met my te praat. Hy sal Singh bel as hy gereed is en as ons gereed is. Dit was baie vreemd vir my,” het Bester gesê.

Essa het Singh gebel wat hom binne sekondes by hulle aangesluit het. Singh het gesê daar is ’n persepsie by Transnet dat Hatch Goba nie wou deelneem aan die program om nuwe opkomende verskaffers te help ontwikkel nie. Dié vergadering was gou verby.

Nie lank hierna nie het Reddy gebel en gesê Essa wil weer vergader en Bester het dié keer met Essa en Reddy vergader, weer by ’n restaurant by Melrose Arch.

Ek het gevra wie hy is. Hy het geantwoord hy is net iemand en is hier om met my te praat. Hy sal Singh bel as hy gereed is en as ons gereed is. Dit was baie vreemd vir my.

Die vergadering het Bester erg geïrriteer. Essa het ’n klomp selfone by hom gehad en het deurentyd opgestaan en oproepe geneem.

Essa het verwys na fase 2 van die spoorlynprojek tussen die Noord-Kaap en Port Elizabeth en gesê Hatch Goba moet R80 miljoen aan sy maatskappy oorbetaal, dan kan hulle die kontrak kry.

Bester het getuig hy het gelag en gesê dit is belaglik, daar is nie soveel geld in die begroting om net R80 miljoen oor te betaal nie – Hatch Goba se tenderaansoek was vir net meer as R800 miljoen, en dit sluit ’n baie klein speling vir foute in.

Essa het hierop gesê indien sy maatskappy by die tenderaansoek ingesluit word, sal hy seker maak die tender groei met R300 miljoen.

“Toe ek praat oor die begroting van die projek het hy gesê hy sal besluit wat die begroting is en ek weet basies niks nie. Hy sal besluit waarheen die begroting gaan,” volgens Bester.

Essa het gesê hulle het mag. “Wanneer dit aangekondig word dat Brian Molefe die nuwe hoof van Eskom word, sal jy sien watter mag ons het,” het Essa volgens Bester gesê. Molefe was toe nog by Transnet en is inderdaad later na Eskom.

Essa het gesê met die mag wat hulle het, kan hulle alles doen. Die tender sal uiteindelik tot R2 miljard “groei”.

Hatch Goba het voortgegaan om vir die projek te tender sonder om gehoor te gee aan Essa se opdrag en het wel die tender gekry. Singh was daarna “baie aggressief” teenoor hulle, volgens Bester.

Meer oor:  Salim Essa  |  Gupta-Broers  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.