Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
San en Khoi besoek Wes-Kaap: ‘Eien jou identiteit’
Thomas Deutschen, Frederick Pier, Stanley Peterson, Geraldo Korporaal en Piet Berends.Foto: Anena Burger

’n Groep San en Khoi van die Kalahari besoek tans die Wes-Kaap om bewustheid oor dié eerste mense van Suid-Afrika se kulturele erfenis en identiteit te kweek en ook kwessies soos bendegeweld, dwelmmisbruik en grondkwessies te pak.

Stanley Peterson, ’n Griekwaleier en ook die leier van die Khoisan Revolusie-party van Upington in die Noord-Kaap, sê die groep is sedert verlede week in die Wes-Kaap op besoek.

Die groep het veral gemeenskappe in Lavender Hill, Uitsig, Mitchells Plain en Retreat, waar bendegeweld hoogty vier, besoek om hier met leiersfigure in gesprek te tree.

“Ons besoek dié gebiede in die hoop om die bendes bymekaar te kry sodat die geweld en misbruik van dwelms onder die jeug kan afneem,” sê Peterson.

“Dit is vir ons kommerwekkend dat nege lewens in nege dae as gevolg van bendegeweld in die Wes-Kaap geëis is en dit terwyl die politici en leiersfigure toekyk en niks daaromtrent doen nie.”

Peterson sê dit is belangrik dat gemeenskapsleiers tot dié stryd toetree. “Dit is ons kinders. More, oormore steel en verkrag hulle omdat niks omtrent die situasie gedoen is nie en geen ingryping plaasvind om die situasie te verbeter nie. Ons kan dit nie toelaat nie.”

Hulle het ook dorpe in die Overstrand soos Hawston, Hermanus en Gansbaai met dieselfde versoek besoek.

Die groep is hier hartlik ontvang en het baie aandag getrek in hul tradisionele drag. Talle inwoners van Gansbaai het Vrydagoggend nader gestaan om te gesels, saam met hulle foto’s te neem en vrae te vra.

“Dit is wat ons wil hê. Ons skep bewustheid rondom ons kultuur en nooi enigeen wie geïnteresseerd is uit om met ons te gesels, want dit is waaroor dit gaan. Ons wil graag hê dat Suid-Afrikaners hul unieke herkoms eien,” sê Peterson.

“Ons het dit veral in die Wes-Kaap teëgekom dat mense skaam is oor hul herkoms. Dit is verkeerd. Eien jou identiteit en wees wie jy is. As jy ’n Boesman, ’n Nama, ’n Zoeloe, Xhosa of ’n Afrikaner is, is daar niks daarmee verkeerd nie. Daar is nie net plek vir een nasie in hierdie land nie. Daar is plek vir almal en almal se erfenis moet gerespekteer word,” sê hy.

Die groep het ook kommentaar gelewer op ’n onlangse verslag deur die Menseregtekommissie waarin aanbeveel word dat stappe dringend geneem moet word ten opsigte van vergoeding vir grond aan die Khoi en San, en dat hul klassifisering as “kleurling” geskrap moet word.

“Dié verslag is om vir ons mense te sê wie ons is en waarnatoe ons op pad is. Ons is in die verlede kleurlinge genoem, maar ons is nie kleurlinge nie. Ons wil graag soos enige ander mense in die land aan ons identiteit geken word,” sê Peterson.

Nog ’n kwessie wat die Khoisan-groep ontstel, is die grondgrype wat tans in die land aan die gang is.

Ons kan nie net grond gryp nie. Dit stel werksekerheid en die behoud van gemeenskappe en die ekonomie in gedrang.

“Ek het ’n groot probleem met wat onlangs hier in Hermanus gebeur het. Ons kan nie as Khoi en San net stilsit as mense net links en regs wil grond beset nie. Geen blanke in Suid-Afrika het grond gesteel nie, hulle het grond gekoop. As dit so is dan moet die grondbesetters wat daarop aandring dat grond aan hulle behoort met die bewyse kom dat die grond by hulle gesteel is of afgevat is,” sê Peterson.

“Jy kan nie iemand verantwoordelik hou vir wat sy voorvaders gedoen het nie. Dis verby.”

Peterson sê Suid-Afrika was trots op sy reënboognasiestatus en was ’n land waar daar plek vir alle Suid-Afrikaners was. “Hoe begin ons ’n reënboognasie as ons alweer apartheid toepas?”

Peterson beaam dat die grondkwessie ’n probleem is, maar meen dat ernstige en dringende gesprekke gevoer moet word om ’n middeweg te vind.

“Ons kan nie net grond gryp nie. Dit stel werksekerheid en die behoud van gemeenskappe en die ekonomie in gedrang. Ons as die Khoi en die San kan nie meer stilsit en kyk hoe een nasie ’n ander nasie onderdruk nie. Sodra jy die landbousektor onder druk plaas, raak dit ons en elke ander Suid-Afrikaner in hierdie land.”

Peterson het die leier van die EFF, Julius Malema, ook uitgedaag om ’n week saam met die Khoi en San in die Kgalagadi-oorgrenspark deur te bring. Hy meen Malema hits mense onnodig aan om grond te gryp.

“Hy moet kom, sonder kos en water en in die veld tussen die leeus kom slaap sodat hy kan leer wat dit is om een met die land te wees. Ons sal hom beskerm, maar hy moenie wil weghardloop as die leeu brul nie.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Bendegeweld  |  Khoi  |  Grondgryp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.