Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sanco sê ANC moet dringend in W-Kaap ingryp

’n Alliansievennoot van die ANC wil hê pres. Cyril Ramaphosa en dié party se topleierskap moet dringend by sy Wes-Kaapse struktuur ingryp wat deur ’n moontlike ineenstorting in die gesig gestaar word weens die omstrede R1 miljoen-skenking van die sakeman dr. Iqbal Survé.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Twitter/PresidencyZA

Sanco versoek dié ingryping omdat hy bekommerd is oor die provinsiale leierskap se wanbestuur van sy finansies – soos met die Survé-skenking – en weens die leierskap se optrede.

Ramaphosa en die ANC se nasionale uitvoerende komitee vergader later Maandagoggend in Kaapstad. Dit is onbekend of dié aangeleentheid op die agenda sal wees.

Sanco is saam met die SAKP en Cosatu alliansievennote van die ANC.

Die skenking van Survé kort voor die 8 Mei-verkiesing vir onder meer kos en vervoer vir vrywilligers vir die ANC se Wes-Kaapse verkiesingsveldtog, het tot groot verdeeldheid onder die provinsiale leierskap gelei.

Daar is besluit dat die geld aan Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep en Independent Newspapers, terugbetaal moet word.

Maandag is daar egter berig dat van die geld onmiddellik toe dit ontvang is aan die ANC se ses strukture in die provinsie oorbetaal is.

Die sage het reeds tot die skorsing van Maurencia Gillion, provinsiale tesourier, verlede Woensdag gelei. Haar skorsing is egter Vrydag op ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee opgehef nadat Khaya Magaxa, provinsiale waarnemende voorsitter, en sewe ander reeds die vergadering verlaat het.

Op die vergadering is ook besluit dat Lionel Adendorf onthef word as politieke hoof van kommunikasie. Adendorf het reeds met regstappe hieroor begin.

Bongikhaya Qhama, Sanco-sekretaris in die Wes-Kaap, het verder in ’n verklaring gesê hulle steun die besluit vir ’n volledige ondersoek na wat van die Survé-skenking geword het.

Die organisasie versoek ook ’n omvattende forensiese ondersoek oor die geldsake van die provinsiale ANC in Gillion se termyn.

“Ons is van mening dat die ANC se (swakker) verkiesingsuitslag in die Wes-Kaap ’n direkte gevolg is van die onvermoë van die verkose leierskap om die grondstrukture met voldoende hulpbronne, aandag en leierskap toe te rus,” sê Qhama.

* Volg Netwerk24 vir meer oor dié berig.

Meer oor:  Anc  |  Sanco  |  Cyril Ramaphosa  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.