Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘SA’ners moet stem dikmaak teen wysigings oor grond’

Suid-Afrikaners moet hul stemme laat hoor oor die voorgestelde wysigings aan die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Dié beroep deur die DA het Vrydag opgeklink.

Dit kom ’n week nadat die parlementêre ad hoc-komitee wat gemoeid is met die wysigings van art. 25 van die Grondwet ooreengekom het dat die voorgestelde wysigings in die Staatskoerant gepubliseer moet word.

Die sluitingsdatum vir openbare kommentaar is 31 Januarie.

Ingevolge die voorgestelde wysigings soos vervat in die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet, moet sekere bepalings van art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Nóg ’n voorgestelde wysiging is dat nasionale wetgewing onder meer die spesifieke omstandighede moet uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP

Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, het die publiek Vrydag aangemoedig om kommentaar te lewer op die voorgestelde wysigings wat sy as “baie kommerwekkend” bestempel het.

“Dit is uiters problematies en kommerwekkend op twee gronde. Hoewel die wysigings na grond verwys, moet dit verstaan word dat grond nie beperk is tot landbougrond nie. Dit sluit enige grond in wat wissel van plase tot gemeenskaplike grond, kleinhoewes tot stedelike eiendom.”

Lotriet het daarop gewys dat die term “grond” nie in die wysiging gedefinieer word nie. “Art. 25 (4) (b) van die Grondwet stipuleer dat eiendom nie beperk is tot grond nie, wat enige eiendom beteken. Daar behoort dus geen twyfel te wees nie dat ‘grond’ in die wysiging enige vorm van grond insluit.”

Die party is ook gekant teen die voorgestelde wysiging dat die spesifieke omstandighede waaronder die vergoedingsbedrag vir grond nul moet wees in nasionale wetgewing aangebring moet word.

“Dit is hoogs problematies omdat die drumpel vir die deurvoer van sulke wetgewing in die parlement ’n eenvoudige meerderheid vereis, terwyl die vereiste vir die deurvoer van ’n grondwetlike wysiging veel hoër is – ’n tweederdemeerderheid plus ses uit die nege provinsies in die Nasionale Raad van Provinsies word vereis.

“Die DA glo dat enige omstandighede vir die onteiening van grond in die Grondwet uitgestippel moet word omdat dit die kern van die Handves van Menseregte raak – jou reg om eiendom te besit en die beskerming teen die onteiening van jou eiendom op ’n wyse wat neerkom op konfiskering,” lui Lotriet se verklaring.

’n Afskrif van die konsepwetgewing kan gevind word by: https://tinyurl.com/yxydm746

Meer oor:  Grondonteiening  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.