Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sassa en Poskantoor bereik ooreenkoms

’n Ooreenkoms tussen die Poskantoor en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) vir die uitbetaling van maatskaplike toelae is uiteindelik bereik.

Jeff Radebe. Foto: Daily Sun

Jeff Radebe, voorsitter van die interministeriële komitee (IMK) oor maatskaplike sekuriteit, het Dinsdag hierdie aankondiging in die parlement gedoen toe hy verslag oor die nuutste verwikkeling in dié voortslepende sage gedoen het.

Die aankondiging kom nadat die IMK vroeër op aandrang van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling moes ingryp nadat Sassa en die Poskantoor vir maande lank op ’n dooiepunt was omdat hulle nie ’n ooreenkoms kon bereik nie.

Dít nadat die konstitusionele hof vroeër beveel het dat Sassa teen 1 April 2018 ’n nuwe diensverskaffer moet vind om staatstoelae uit te betaal omdat die huidige diensverskaffer, Cash Paymaster Services (CPS), se kontrak onwettig was.

LP’s het ook volgehou dat die Poskantoor as staatsinstelling by CPS, ’n private maatskappy, moes oorneem, veral omdat die administrasiekoste vir die uitbetaal van die toelae sowat R200 miljoen per maand beloop.

Radebe het Dinsdag tydens ’n gesamentlike sitting van bogenoemde parlementêre komitees gesê dat Sassa uiteindelik ’n ooreenkoms met die Poskantoor bereik het.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, was ook teenwoordig tydens die sitting.

Die ooreenkoms is egter nog onderworpe aan die Poskantoor se vermoë om die dienste “kostedoeltreffend” te kan verskaf.

Bathabile Dlamini. Foto: Deaan Vivier

’n Finale ooreenkoms sal op 24 November onderteken word sodra die IMK bepaal watter funksies doeltreffend vir die Poskantoor sal wees.

Radebe het bygevoeg dat die ooreenkoms egter nie eksterne partye sal uitsluit om ook deel van die uitbetalingsproses te wees nie.

Dit beteken dat daar steeds plek vir kommersiële banke sal wees om deel te wees van die proses.

Die Bankraad van Suid-Afrika het op 10 November ook in beginsel ingestem om ’n spesiale bekostigbare rekening vir Sassa-begunstigdes te skep en verdere vergaderings daaroor word beplan.

Die regering beplan ook ’n kommunikasiestrategie wat begunstigdes gedurig op hoogte sal hou van waar die proses hom bevind in terme van die finalisering van die aanstelling van ’n diensverskaffer.

“Die kommunikasiestrategie sal alle begunstigdes verseker dat die regering geen bedoeling het om die plan vir maatskaplike sekuriteit te kanselleer of te kortwiek nie,” het Radebe gesê.

Hy het bygevoeg dat die IMK goed op dreef is om ’n permanente oplossing vir die debakel rondom die maatskaplike toelae te vind.

“Ons verstaan die vrees wat die dooiepunt tussen Sassa en die Poskantoor oor maatskaplike toelae veroorsaak het.

'n Sassakaart

“Dit sluit ook vrese in dat toelaagkaarte kan verval en begunstigdes nie hul toelae kry nie. Ek kan die versekering aan alle Sassa-begunstigdes gee dat geen kaart op 31 Desember 2017 sal verval nie.”

Intussen het Themba Godi, voorsitter van Skoor, ná Dinsdag se sitting gesê die parlement is bly vir die “mense van Suid-Afrika, omdat die vrees en kommer wat hulle gehad het oor maatskaplike toelae nou aandag gekry het.

“Die gesamentlik komitee verwelkom ook dat daar nou behoorlike kommunikasie van die regering aan die publiek oor hierdie aangeleentheid sal wees, wat sal verseker dat mense gerus is oor die kwessie,” het hy gesê.

Meer oor:  Sassa  |  Cash Paymaster Services  |  Cps  |  Poskantoor  |  Themba Godi  |  Bathabile Dlamini  |  Jeff Radebe  |  Ooreenkoms  |  Toelaes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.