Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sê die dienste by sy kantoor in Bellville in Kaapstad se noordelike voorstede het hervat en is terug na normaal.
Dit volg ná chaotiese tonele verlede week by dié kantoor toe Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, daar besoek afgelê het.
Honderde mense het Vrydag in afwagting van die minister se besoek buite die Sassa-kantoor saamgedrom in opstand teen ongeskiktheidstoelae wat verval en gestaak is, asook weens ’n hoë aanvraag vir dienste.

Die skare mense wat verlede Vrydag buite die Sassa-kantore in Bellviille saamgedrom het. Foto: Jaco Marais
Zulu het tevergeefs probeer pleit dat mense ’n veilige afstand moet handhaaf, waarna die polisie ’n waterkanon gebruik het om mense uiteen te jaag.
Sy het verlede week met besoeke aan Sassa-kantore in Kaapstad begin met die doel om plaaslike gemeenskappe se klagtes oor dienslewering aan te hoor en toe te sien dat die regulasies op vlak 3 van die inperking nagekom word.
In ’n verklaring sê Sassa dat afsprake beplan word vir elke kliënt wat weer vir ongeskiktheidstoelae moet aansoek doen.
Die Sassa-bestuur het ook vrywilligers van die Nasionale Ontwikkelingsagentskap (NDA) gewerf om te help met die bestuur van lang rye en om te verseker dat mense sosiale distansiëring handhaaf.

Die polisie probeer die mense keer om saam te drom en het uiteindelik ’n waterkanon gebruik. Foto: Jaco Marais
“Bykomende personeellede is teruggeroep om bedrywighede by die Bellville-kantoor te ondersteun. Sassa het ook dienste van onafhanklike dokters verkry om te help met mediese assesserings van mense. Ons werk nou saam met die Kaapstad-metroraad om toegang tot fasiliteite nader aan gemeenskappe te verkry,” lui die verklaring.
Sassa sê dat hulle tydens die minister se besoek geen inligting oor enige sterftes by die Sassa-kantoor in Bellville ontvang het nie, wat in teenstelling is met mediaberigte.
“Die Bellville-kantoor het 7 196 toelae wat verval het en tot op hede het Sassa daarin geslaag om 997 afsprake vir kliënte wie se tydelike gestremdheidstoelae verval het, te beplan.”

Die polisie probeer die mense keer om saam te drom en het uiteindelik ’n waterkanon gebruik. Foto: Jaco Marais
Volgens Sassa is die groot aanvraag na dienste en ruimtebeperkings by die Bellville-kantoor, tesame met die huidige uitdagings van die vlak 3-inperking, deel daarvan dat alle Sassa-kantore met die helfte van hul personeel moet werk.