Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sassa, Poskantoor kan mekaar ná 4 vergaderings 'nie vind'

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en die Poskantoor kon ná vier vergaderings in twee dae mekaar steeds nie vind oor watter rol die Poskantoor in die administrasie van maatskaplike toelaes moet speel nie.

Dit terwyl 17 miljoen begunstigdes volgens Rosemary Capa, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling (PMO),  paniekbevange is omdat daar slegs 100 werksdae oor is vir die omstrede Cash Paymaster Services (CPS) om as diensverskaffer vir die uitbetaling van Sassa-toelaes vervang te word.

Die konstitusionele hof het vroeër beveel dat die huidige CPS-kontrak onwettig is en dat CPS teen 31 Maart 2018 uitgefaseer moet word.

Sassa en die Poskantoor kon die afgelope paar maande mekaar nie vind vir die oorneem van die Sassa-kontrak nie.

Die PMO en staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) hetdie twee instellings egter Dinsdag gedwing om te vergader en hul probleme teen Woensdagaand op te los.

Woensdagaand het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie wat die proses fasiliteer, aan ’n spesiale sitting van die twee komitees teruggerapporteer.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, dr. Siyabonga Cwele, minister van posdienste en telekommunikasie, Pearl Bhengu, uitvoerende hoof van Sassa, Mark Barnes, uitvoerende hoof van die Poskantoor, en selfs Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, was almal teenwoordig.

Dit het egter daartydens uitgekom die twee instellings se tegniese spanne het nog nooit ontmoet nie.

Mogajane het gesê daar was sedert Dinsdag vier vergaderings tussen die partye, maar dat ’n ooreenkoms nie bereik kon word nie.

“Dit het egter daartydens uitgekom die twee instellings se tegniese spanne het nog nooit ontmoet nie.”

Mogajane het gesê die tesourie sal voortaan sy eie en die Reserwebank se kundigheid betrek.

“Dit is ook baie duidelik dat die hele proses ’n gebrek aan politieke leiding ervaar het van die interministeriële komitee (IMK) wat dit moet oorsien.”

Pres. Jacob Zuma is die komitee se voorsitter.

Volgens Mogajane het Sassa nooit amptelik aan die Poskantoor gesê waarom hy net vir een van die vier toelaetenders kwalifiseer nie.

Sassa wil hê die Poskantoor moet net die inligtingtegnologiestelsel vir die toelaes ontwikkel, maar wil ander diensverskaffers aanstel vir die vervaardiging van Sassa-kaarte, die bankdienste vir die uitbetaal van toelaes en vir fisiese uitbetalingspunte.

Die Poskantoor hou vol hy kan al die dienste verskaf.

Dit is ook baie duidelik dat die hele proses ’n gebrek aan politieke leiding ervaar het van die interministeriële komitee (IMK) wat dit moet oorsien.

Sassa het om die rede die tesourie versoek om vas te stel of die Poskantoor wel die ander dienste kan verskaf.

Ontstoke en angstige ANC- en opposisie-LP’s het dit Woensdagaand egter duidelik gemaak dat die tyd vinnig uitloop en dat hulle verkies dat ’n staatsinstelling voortaan die toelaes administreer. Die koste daarvoor beloop R200 miljoen per maand.

Ná spanningsvolle en emosiebelaaide debatte deur LP’s, is daar Woensdagaand onder meer besluit dat:

  • Die planne om vir die ander dienste teen 3 November 2017 (Vrydag) te tender, voorlopig nie deurgevoer word nie;
  • Tesourie teen Maandag sy assessering van die Poskantoor voltooi en sy besluit onmiddellik aan Sassa en die Poskantoor kommunikeer;
  • Die IMK op sy vergadering komende Dinsdag oor die besluit ingelig word; en
  • Die IMK die twee komitees tydens ’n sitting Woensdag oor die pad vorentoe inlig.
Meer oor:  Sassa  |  Maatskaplike Toelaes  |  Poskantoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.