Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Sassa-uitbetalings: Zuma het klaar besluit

’n Interministeriële komitee (IMK) onder leiding van pres. Jacob Zuma het klaar besluit dat maatskaplike toelae voortaan deur ’n samestelling van die Poskantoor en die private sektor uitbetaal sal word.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, maak dié onthulling in ’n geskrewe parlementêre antwoord wat die parlement Donderdag uitgereik het.

Bathabile Dlamini Foto: Deaan Vivier

Dit is slegs ’n dag nadat die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling (PMO) Woensdagaand besluit het om die nasionale tesourie tot Maandag te gee om te assesseer of die Poskantoor wel self alle maatskaplike toelae kan uitbetaal, soos dit aanvoer.

Die tesourie moet Dinsdag ’n aanbeveling daaroor aan die IMK bekend maak, is verder voorgestel.

ANC- en opposisie-LP’s is egter paniekerig omdat daar slegs 99 werkdae oor is vir die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) om aan ’n bevel van die konstitusionele hof te voldoen om Cash Paymaster Services (CPS) as diensverskaffer vir die uitbetaling van toelae te vervang. Sassa se spertyd is 31 Maart.

Dlamini se parlementêre antwoord kom nadat verskeie LP’s in geskrewe parlementêre vrae by haar wou weet of Sassa nog nie enige kontrak met enige diensverskaffer onderteken het nie.

Luidens Dlamini se antwoord het die IMK onder Zuma se voorsitterskap reeds ’n hibriede oplossing onderskryf en aanbeveel.

Dit sal banke, die Poskantoor en betalingskontrakteurs insluit om die toelae uit te betaal.

“Dit sal banke, die Poskantoor en betalingskontrakteurs insluit om die toelae uit te betaal.

“Die IMK het verder aanbeveel dat die tussentydse hibriede oplossing en toekomstige betalingsoplossings kapasiteit vir Sassa en die departement moet bou, sowel as om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te ondersteun.

“Bykomend het die IMK ook aanbeveel dat enige diensverskaffer wat belang stel om aan die proses deel te neem, wat die Poskantoor insluit, aan ’n omsigtigheidsondersoek onderwerp moet word.”

Skoor en die PMO het Woensdagaand egter aanbeveel dat Sassa enige versoeke vir ander tenders van diensverskaffers, wat hy beplan het om vanaf 3 November te adverteer, voorlopig uitstel.

Intussen het die nieregeringsorganisasie Black Sash, wat die aanvanklike aansoek in die konstitusionele hof teen Sassa ingedien het, Donderdag ook in ’n verklaring gesê dat die verspreiding van Sassa-toelae nooit weer net afhanklik moet wees van winsgedrewe maatskappye nie.

“Deur ons moniteringswerk in gemeenskappe landwyd het ons die swaarkry gesien en die verwoestende impak wat dié scenario op die lewe van begunstigdes van maatskaplike toelae het,” sê Black Sash.

LP’s in bogenoemde twee komitees het dit Woensdagaand ook duidelik gemaak dat ’n staatsinstelling soos die Poskantoor voortaan gebruik moet word om toelae uit te betaal. Dit is omdat die administrasiekoste daarvan tans sowat R200 miljoen per maand beloop.

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep in die parlement, het Donderdag ook in ’n verklaring gesê dat die armstes onder die armes, wat staatmaak op maatskaplike toelae, die ANC se prioriteit bly en dat die “uitkontraktering van maatskaplike toelae aan private maatskappye dus nie ’n moontlikheid is nie”.

Intussen het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van kommunikasie, Donderdag by die parlement gesê dat die kabinet nie die Sassa-aangeleentheid op sy vergadering Woensdag by Tuynhuis bespreek het nie.

“Die IMK is steeds besig om daaraan te werk. Ons moet nie alarmisties wees nie, want die IMK is bewus van sy verantwoordelikheid,” het Kubayi-Ngubane gesê.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Jacob Zuma  |  Parlement  |  Besluit  |  Sassa-Uitbetalings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.