Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAUK-onderhoud: Zuma ‘stel homself in verleentheid’
Pres. Jacob Zuma. Foto: Reuters

Dit is duidelik dat pres. Jacob Zuma nie die omvang van die politieke krisis wat hy met sy weiering om te bedank help skep het en die ernstige gevolge wat dit vir die ANC en Suid-Afrika inhou, verstaan nie.

Dít was prof. Cherell Africa, politieke ontleder van die Universiteit van Wes-Kaapland, se reaksie op die onderhoud met die SAUK waarin ’n uitdagende Zuma dit Woensdagmiddag onder meer duidelik gemaak het dat hy nie as staatshoof sal bedank nie omdat duidelike redes nooit aan hom gegee is oor waarom hy dit moet doen nie.

Zuma hou vol hy “verset” hom nie teen die nuwe ANC-leierskap onder leiding van adj.pres. Cyril Ramaphosa nie, maar dat hy eerder nie “saamstem met die manier waarop hulle van hom ontslae wil raak nie”.

Hy meen hy word “geviktimiseer” deur Ramaphosa en die res van die ANC se topleiers omdat dit volgens hom nie ANC-beleid is dat die president van die land moet bedank om vir die nuwe ANC-president plek te maak nie.

Zuma het gewaarsku as die ANC-leiers nie versigtigheid aan die dag lê met hoe hulle dié kwessie hanteer nie, dit groter probleme (vir die ANC) kan skep as met die herroeping van oudpres. Thabo Mbeki, wat tot die stigting van Cope gelei het.

Zuma self was egter die hoofargitek van Mbeki se herroeping.

Africa het die onderhoud as “onsamehangend” beskryf.

“Hy het nie een keer nagedink oor sy eie rol in die huidige politieke krisis nie. Dit is ook duidelik dat hy nie die omvang van die situasie, sowel as die ernstige negatiewe gevolge wat dit vir die ANC en die land kan hê, verstaan nie.”

Minstens kan die ANC nou met sekerheid vorentoe beweeg. Ons sal hopelik vinnig ’n einde sien aan hierdie ontvouende politieke drama.

Volgens Africa het Zuma die ANC met sy weiering om te bedank in ’n “onhoudbare” posisie geplaas wat die regerende party dwing om staat te maak op die mosie van wantroue wat deur die EFF ingedien is om van hom ontslae te raak.

“Minstens kan die ANC nou met sekerheid vorentoe beweeg. Ons sal hopelik vinnig ’n einde sien aan hierdie ontvouende politieke drama.”

Daniel Silke, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê Zuma moes “waansinnig” gewees het om te dink dat sy onderhoud lede van die ANC-koukus of die party se nasionale uitvoerende komitee se siening van hom sou verander het.

“Dit het eerder sy posisie ondermyn en hy het homself in die verleentheid gestel. Dit kan ook eerder as ’n voorspel tot sy bedanking beskryf word, terwyl dit ook sy laaste geleentheid was om nog as president die kollig te kon steel. Ek dink omdat hy nie vanjaar se staatsrede kon lewer nie, het hy die onderhoud gebruik om die stand van Jacob Zuma-rede aan die land te lewer.”

Prof. Pieter Labuschagne, ’n politieke ontleder van Unisa, sê dit is ook duidelik dat die gaping tussen Zuma en die ANC sedert Sondag onoorbrugbaar geword het.

“Zuma verdedig homself op ’n wyse wat die kloof tussen hom en die (ANC-)topses nog groter maak. Hy besef nie dat sy party hom wil uitwerp omdat hy onaanvaarbaar geword het,” het Labuschagne gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.