Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Prys om WB uit te saai ‘net buitensporig’

Die prys op die tafel vir die SAUK om die Wêreldbekerrugbytoernooi (WB) se wedstryde uit te saai, was “net buitensporig.”

Madoda Mxakwe, groep uitvoerende hoof van die SAUK, het Dinsdag dié opmerking by die parlement gemaak, ’n dag nadat die openbare uitsaaier bevestig het dat hy nie die wedstryde van dié toernooi op sy televisiekanale of radiostasies sal uitsaai nie.

Hy het aan LP’s gesê dit is nie “finansieel haalbaar” vir die SAUK om ’n ooreenkoms aan te gaan om die wedstryde uit te saai nie. Die toernooi, wat in Japan plaasvind, begin Vrydag.

Madoda MxakweFoto: Daily Sun

Die televisieregte vir die toernooi sou die SAUK $28 miljoen gekos het, terwyl die radio-uitsaairegte $60 000 sou beloop. Dit het produksiekoste uitgesluit wat sowat R900 000 sou wees.

Mxakwe was deel van ’n afvaardiging van die SAUK se topbestuur en sy raad wat Dinsdag ’n voorlegging oor die SAUK se regrukplan aan die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie gelewer het. Die openbare uitsaaier staan tans bakhand by die nasionale tesourie vir ’n reddingsboei van R3,2 miljard.

Mxakwe is onder meer uitgevra oor waarom die wedstryde van die WB nie deur die SAUK uitgesaai gaan word nie.

Hy het verduidelik dat een van die grootste kostedrywers vir die SAUK die “buitensporige koste” van sport-uitsaairegte is. “Ons is sekerlik verbind tot ons mandaat om te verseker ons saai sport van nasionale belang uit. Dit is egter uiters duur en dit het ons wins-en-verlies-staat geraak.

“Oor die afgelope drie jaar het ons sowat R3,8 miljard verloor en as ons op dié trajek sou voortgaan sal ons nóg R6,8 miljard benodig. Dit is net nie volhoubaar vir die SAUK nie . . .”

Die R3,8 miljoen is aan regte verloor wat onder meer sokker, krieket en ander sport van “nasionale belang” insluit. Wat die SAUK hieraan bestee het en ontvang het, het volgens Mxakwe nie “kommersiële sin” gemaak nie.

Hy het verduidelik dat die SAUK ses jaar gelede ’n kontrak onderteken het om uitsaairegte vir sokker te bekom. Dit het R280 miljoen per jaar oor vyf jaar beloop, maar die inkomste wat die SAUK daaruit gegenereer het, was minder as R40 miljoen.

“So jy kan verstaan dat dit kommersieel ’n verkeerde ooreenkoms was. Die raad het ons opdrag gegee om nie weer enige ooreenkoms te onderteken wat nie kommersieel lewensvatbaar vir die SAUK is nie.

“Met elke enkele ooreenkoms wat ons oorweeg, kyk ons na die kommersiële lewensvatbaarheid en ook die noodsaaklikheid om aan ons openbare mandaat te voldoen. Wat geneig was om in die verlede te gebeur is dat ooreenkomste onderteken is sonder dat daar noodwendig na die kostebasis daarvan vir die SAUK gekyk is.”

Die SAUK het volgens Mxakwe intussen ’n voorlegging aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) gemaak waarin hulle kwessies geopper het oor die noodsaaklikheid daarvan om die uitsaairegte te ontbondel, asook vir meer deursigtigheid wat pryse betref.

“Selfs met die rugbyregte wat die radio betref, was dit dieselfde ding – die prys was net buitensporig. Soveel as wat ons daartoe verbind is om sport van nasionale belang uit te saai, kon ons nie ’n situasie toelaat om ’n ooreenkoms te onderteken wat nie finansieel lewensvatbaar is nie.”

Die SAUK het in die laaste fiskale jaar verliese van R483 miljoen gely. Hiervan het R400 miljoen direk verband gehou met die verliese wat gely is ten opsigte van die uitsaairegte vir sport.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.