Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
SAUK se ‘Dag Zero’ kom vinnig nader

Die SAUK en sy vakbonde het Dinsdag oor moontlike afleggings vergader terwyl ’n raadslid voor ’n parlementêre komitee getuig het die uitsaaier se Dag Zero, wanneer die geldkrane heeltemal leeg sal wees, kan reeds teen Maart kom.

Die vakbonde en die SAUK verskil egter oor die formele status van Dinsdag se vergadering. Die vakbonde sê die vergadering was nié ’n konsultasie nie.

Die SAUK-gebou in Auckland Park.Foto: Argief

Luidens die mediawerkersvakbond Bemawu was dit eerder ’n geleentheid vir die uitsaaier om uitstaande inligting aan die vakbonde te verskaf.

“Op ’n vorige vergadering met die SAUK was daar inligting oor die proses wat ontbreek het. Madoda Mxakwe, uitvoerende hoof, het toe onderneem dat die inligting ’n week later beskikbaar sou wees, maar dit het nie gekom nie. Dit is toe op Dinsdag se vergadering aan ons gegee,” sê Hannes du Buisson, woordvoerder van Bemawu.

Hy sê vakbonde het nou sewe dae kans om die inligting, wat onder meer jaarverslae, ’n strategiese padkaart en ’n lys van werknemers bevat, na te gaan, waarna dit na die SAUK teruggestuur sal word.

Die partye sal dan op 13 Desember weer vergader vir die amptelike eerste konsultasie nadat die uitsaaier vakbonde met ’n kennisgewing ingevolge art. 189 van die Arbeidswet, wat afleggings reguleer, bedien.

“Die uitsaaier wou vandag se vergadering as die eerste konsultasie beskou, maar Bemawu en die Communication Workers’ Union (CWU) het egter beswaar daarteen gemaak. Die bekendmaking van die uitstaande inligting is nie deel van die proses ingevolge art. 189 nie. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het dit so aanvaar,” sê Du Buisson.

Teen einde van Februarie sal ons nie meer volle salarisse kan betaal nie en teen Maart is ons op Dag Zero, as niks verander nie.
Mathatha Tsedu, SAUK-raadslid

Die SAUK hou egter vol dit vorm deel van die proses.

Luidens ’n verklaring wat Dinsdagmiddag uitgereik is, was Dinsdag se vergadering “die eerste konsultasie met betrekking tot art. 189”.

“Die vergadering was opbouend en die SAUK het inligting wat deur die vakbonde aangevra is, aan hulle gegee, wat hulle nou sal oorweeg. Die partye het onderneem om op 12 en 13 Desember voort te gaan met die konsultasie, tesame met die KVBA. Die SAUK onderneem om aan al die regsvereistes en prosesse kragtens art. 189 te voldoen,” lui die verklaring.

Intussen het Mathatha Tsedu, SAUK-raadslid, Dinsdag aan die parlementêre komitee vir kommunikasie gesê die uitsaaier se eie Dag Zero kan so gou soos die eerste kwartaal van 2019 kom, berig Fin24.

“Ons is nou in die tweede fase van die voorspelling. Die derde fase is waar ons inkomstestroom opdroog. Teen die einde van Januarie sal ons die salarisse en ’n paar ander dinge kan betaal. Teen einde van Februarie sal ons nie meer volle salarisse kan betaal nie en teen Maart is ons op Dag Zero, as niks verander nie,” het Tsedu gesê.

Hy sê die SAUK het die tesourie genader, maar het nog nie enige goeie nuus gekry nie.

Meer oor:  Kvba  |  Sauk  |  Bemawu  |  Madoda Mxakwe  |  Vakbonde  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.